Ek jag nie, maar ek sal wraggies begin oor een saak!!!!!!

Een van die dae is ek bevoorreg om weer saam met die wolfpack te gaan jag. Na nou die dag se gholfdag eskapade weet ek dat ons weer die tydjie saam gaan geniet. Die tyd wat ons in die veld spandeer en die dorp se probleme oplos en die tyd wat ons om die vuur spandeer en die land se probleme oplos is waardevolle groeitye in ons almal se lewe. Dis sulke tye waarvan Stephen Covey praat as “sharpening the saw” Wel skerpmaak gaan ons skerpmaak. Wanneer ons terugkeer is daar baie aktiwiteite wat aandag kort en daarvoor het ons ‘n goeie dosis “Batterylaaityd” nodig.

Laat ek net gou een ding duidelik stel. Ek het niks teen jag nie (soos visvang), maar ek het nie ‘n begeerte om te skiet nie en nog minder die geduld om te wag vir ‘n stuk aas aan ‘n hoek om gebyt te word. Soms glo ek die gesegde wat die fly fishing ouens kwytraak: “ordinary fishing is just a fool playing with a worm”. Ek is natuurlik mal oor die daar wees. Die water, die bos, die kampvuur, die nonsenspraat om die vuur, die grotes wat wegkom en die voorbereiding van die visgerei en jaggereedskap.

Vroeër jare was ek ook ‘n “undercover anti jag agent” wat skelm biltong in ‘n ander voorstad gaan koop het en die jammer-vir-die-arme-diertjies clan redelik geduld het. Die jagbedryf was nog altyd besaai met landmyne. Geblikte jag, renosterhorings, ivoorverbod, Die groot argumente teen jag was maar altyd die beskuldigings dat dit ‘n onmenslike, gevoellose, wrede en sadistiese manier is om diere uit te moor en waar 30 jarige seuntjies, wat op ‘n enorme testosteroon trip is, mekaar vermaak tot nadeel van die natuur. Groot woorde met hope emosie belaai. Woorde wat na my mening bietjie vinnig gespreek is en gruwelik veralgemeen.

Ek weet daar is die slegte kant van jag. Daar is ouens wat los en vas enige ding wat beweeg wil skiet sodat hy kan sê dat hy dit geskiet het. Ek weet daar is ouens wat geen benul het van wildkwotas en veldkapasiteit nie. Ek weet daar is die ouens wat verslaaf is daaraan om die nuwe jagters te ontgroen met ‘n rou stuk lewer of vars kudu testikels. Daar is tog ‘n groot groep grootbekke wat die jag taal kan praat maar die essensie van die jag glad nie verstaan nie.

“Wat het jy daar in jou sak”

“dis ‘n 303 met ‘n sport makeover”

“wie het dit vir jou gedoen”

“man, ek het dit sommer self daar in my garage gedoen”

“is jy nie bang dat jy die gun gaan seermaak nie”

“no ways!! Nou weet ek wat hy kan doen en ek het volkome beheer oor hom”

Klink vir my soos ‘n ou wat weet wat hy wil hê!!!!

Daar is egter mense wie hulle diere op hul plaas ken. Nie net die naam van die boksoorte nie maar die individuele bokke!!! Ek weet daar is mense wat nog nooit ‘n koedoekoei sien miskraam het omdat die veld oorbewei is in droogtetyd nie. Dis saam met sulke ouens wat ek graag tyd spandeer as daar “gejag” word. Onmenslik en gevoelloos sal nooit een van hulle kenmerke wees as jy eenkeer die traan sien glinster het in hulle oë na die afkom op ‘n karkas in die veld wat deur ‘n veldbrand vasgekeer is. Wreed beslis ook nie omdat wreed impliseer volgens die HAT dat so iemand geneig moet wees om ander leed aan te doen sonder medelye.

Gewoonlik verloop die hele jagproses so:

  • Beplanning word gedoen oor wat mag gejag word en die prys daaraan verbonde.
  • Almal kry hul skietgoed reg.
  • Almal sorg dat die jagarea afgesonder word.
  • Die groep beweeg uit met ‘n spoorsnyer.
  • Die prooi word gewaar.
  • Aanlê en skiet!!
  • Daar word onmiddelik seker gemaak die bok ly nie. (‘n vinnige swiep van ‘n jagmes rond die poging blitsig af)
  • Indien dit jou eerste bok is moet jy die testikel afsy en in jou mond sit vir jou eerste foto.
  • Daarna word daar gepose saam met die bok.
  • Daarna terugneem kamp toe en die afslag werk word dan gedoen.

As ek so terugdink weet ek dat ons voorvaders eintlik maar jagters was maar deesdae is die jagveld beperk tot die jag wat plaasvind tussen die twee geslagte. Ek sou nie sê dat ek vir mevnel gejag het nie. Nee, dit was eerder ‘n volg en saambeweeg en reisbeplanning en hofmaak. Jag beteken mos eintlik dat die “prooi” deur die “jagter” bekruip word en dat die prooi nikswetend die lewe gaan verlaat en die jagter gaan voort na die volgende prooi. Ek glo dat die keerpunt in my verhoudingslewe gekom het toe ek ge”upgrade” het van jagmaak na hofmaak. Ek het jag net daar vaarwel toegeroep maar ek dink daar is een uitsondering wat my weer uit my “sleeper” status gaan terugroep.

My twee dogters is onbeskryflik mooi en gereeld word daar spelenderwys gevra of ek ‘n groot geweer het. My antwoord (vuiste omhoog) is maar standaard “Nee, maar hier’s my appel en hier’s my peer. Hy slaan dood en hy slaan seer” Gewoonlik besef die een nie, wat die cliche gebruik, hoe ernstig ek is nie. Ek sien mos gereeld hoe voornemende suitors aanlê op my kroos.

Dis hier waar ek dan ook besluit het dat ek weer by die jagtersvereniging sal aansluit. Die vereniging van vaders van dogters waarop jag gemaak word en nie hofgemaak word nie. Die sarkastiese anti-jag brigade het hier een waarheid beet. “Jag sou eintlik ‘n great sport gewees het as die bokke ook gewere gehad het” Dis hier waar ons van die spesiale vaders jagvereniging tot die stryd gaan toetree op hierdie jafels.

Gelukkig is daar nog baie ordentlike ouens in die dorp (en ek sien hulle oral) wat die kuns verstaan om vaders se dogters op hulle hande te dra en betekenisvolle verhoudings en vriendskappe najaag. Dis die ouens wat besef dat daar heelwat vaders is wat recces en infanteriste en stormpioniers en artilliriste was maar nou gewone werke soos onnies en rekenmeesters en werktuigkundiges is.

In G.I.Jane lees die grootkokkedoor die volgende van DH Lawrence voor wat nogals die oerdier in ons redelik saamvat:

“I never saw a wild thing sorry for itself. A small bird will drop frozen dead from a bough without ever having felt sorry for itself.”

Miskien moet dit ons vereniging se leuse wees want onmenslik, wreed, gevoelloos en sadisties is karaktertrekke wat ek bespeur as ek van ‘n afstand af myself evalueer in my denkeksperiment wanneer ek so ‘n kalant sou raakloop. Die volgorde van die jag sou redelik verskil het want aan die einde se kant, net so na die testikulêre amputasie met my ou leatherman, sou hy met ‘n sopraanstemmetjie sê:

“sorry oom!!!!!”

Categories: Uncategorized | 4 Kommentaar

Artikel navigasie

4 thoughts on “Ek jag nie, maar ek sal wraggies begin oor een saak!!!!!!

  1. Bets

    OUCH!!

  2. Ek wil asseblief nooit in een van jou dogters vas loop nie. Ek is ‘n jagter, in murg en been. Vier been en twee been bokkies ! 🙂
    Terloops, dankie vir die mooi skrywe oor ware jagters. Puik.

  3. Sanette Bezuidenhout

    Ja , jag is vir my nie ‘n sport nie. Dit is hartseer om te dink daardie diere het geen verweer nie. Die ander jag is veel hartseerder, want jou kosbaarste besitting is op die spel. Dit is so maklik om die “bokkies” te kwes en dan draai die jagter net om en verlaat die veld om iewers anders ‘n ander bokkie te jag.
    Ek staan agter jou !

  4. Jeney Barnard

    Ek stem saam daar is n slegte kant van jag

Lewer kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.