Uncategorized

Wat maak jou regtig gelukkig?

Dis nou net voor die vakansie en hierdie tyd is almal al redelik op vir mekaar. Die nerwe is dun en die woorde is min. Dis punte en rapporte en uitspele en proewe. Dit voel net asof die 30 uur wat daar in ‘n dag is nog steeds nie genoeg is nie. Gelukkig is alles nou verby en kan ons uitsien na ‘n heerlike wegbreek.

Image result for Happiness

Ek glo dat dit maar ‘n universele soek is. Die soeke na blywende geluk. Laas Donderdag was ons bevoorreg om ‘n werkswinkel by Con Amore skool. Die lesing/gesprek het gegaan oor die einste vraag.

Ek dink nie ek het die middag die hele antwoord gekry nie maar ek dink dat dit my in die regte rigting gestuur het in ‘n poging om die vraag te antwoord. My gedagtes het onmiddelik gedraai by Romeine 12:2 “laat God toe om julle denke te vernuwe…..”. Dit moet ‘n “inside job” wees. Hierdie geluk moet mos loop soos die water wat Jesus belowe het aan die Samaritaanse vrou in Johannes 4. Water wat jou nooit weer dors maak nie. Die ander water maak jou altyd weer dors en dit is die verskil tussen geluk en plesier. Happiness en pleasure.

Plesier is die “outrageous fortune” waarvan Shakespeare in Hamlet praat en “facing a sea of troubles and by opposing end them” moet die Geluk wees. Die fortuin is beperk en gaan opraak, maar die gevoel van bevrediging is baie meer blywend.

Die strikvraag wat tydens spanboue gereeld gevra word oor ‘n halwe glas water is gewoon bedoel om optimisme te toets. Ek het al deur die jare ‘n paar goeie antwoorde op “is die glas halfvol of halfleeg” gekry. Die beste antwoord bly maar: “Dit hang af of jy drink en of jy skink”. Dit is ook die antwoord op my eerste vraag. Gee jy in die lewe of neem jy net heeltyd.

Image result for glass half full or half empty

Viktor Frankl beweer in “Mans search for meaning” dat ons elkeen se betekenis van die lewe verskil. Dit is soos skaakspeel. Daar is nie een ultimate goeie skuif nie. Elke situasie het sy eie goeie en ultimate skuif. Ek weet dat ons duideliker hierdie betekenis sal raaksien in ons soeke na geluk as ons hierdie tydjie meer bewustelik raak en ons liggame en gees weer vertroetel.

Me van der Mescht het die volgende voorstelle gemaak vir voorbereiding op die pad van soeke na betekenis en sin in die lewe.

  • Kry genoeg oefening. Kom weer vir ‘n slag uit die geboue uit en stap in die oggend met sonsopkoms.
  • Maak ‘n punt daarva om bewustelik attent te wees op die dinge waarvoor mens kan dankbaar wees.
  • Skryf ‘n joernaal met al daardie warrelwind gedagtes neer sodat die skryfproses ons innerlike gedagtes kan orden en heel.
  • Gee weer aandag aan jou verhoudings met mense. Kuier by ou vriende en pamperlang jou ouers en gesinsmense.
  • Spits jou toe om elke dag ten minste een random act of kindness te doen soos om vir die bediende voor jou in die supermarg se ry se klein pakkie pap en bene te betaal. Gee vir die karwag of petroljoggie ‘n koeldrank of betaal vir die kar agter jou by die tolhek. Dis aksies wat resoneer tot in die ewigheid.
  • Raak meer stil. Nie meer stiltetyd met studiegidse en werksboekies en bybelstudie gidse nie. Stil wees en soos die boedhiste net langs die rivier van die lewe sit en dophou hoe dit verbyvloei. Dit moet die bedoeling wees van ses dae se arbeid gevolg met ‘n rusdag. Ons het almal daardie tyd nodig. Dis die eenkant toe gaan wat ons die betekenis en sin van die lewe beter kan laat sien.

Kom ons probeer dit hierdie vakansie doen. Nie net vir ander nie maar vir jouself.

Categories: Uncategorized | Lewer kommentaar

Wees daar!!!!

Vanoggend het ek vroeg wakker geword en nie wakker geskrik nie. Vroeg omdat ons vroeg gaan slaap het. Die ligte was al seweuur uit omdat dit die laaste van die son se skemer was wat oor die westelike rante van die Suikerbosrand gekwyn het. Al wat oorgebly het is kopliggies en n lekker vuur. Gister se 9.watookal het sy tol op my kantoorbeentjies geëis. Ek glo dis juis daardie ongewone effort wat mens insit op n staptoer wat maak dat jy minder puntenerig oor jou kooi raak. Ek dink ons almal het al 9uur balke gesaag.

Die feit dat daar geen selfoonsein is nie het beslis bygedra dat ons in die moment kon leef. Wat is in elk geval die nut daarvan om in die Suikerbosrand te stap maar nie regtig daar te wees nie? Die opdraendes en die hitte help weliswaar dat jou kop in die moment moet wees.

Dit was in ‘n mate lekker om die effe soutigheid op my lippe te proe en die salpeter wit te sien uitslaan op my hoed. ‘n Sagte voetval was nog nooit slegte geselskap nie. Dit moet hierdie tye wees wat jou emmertjie weer vol maak.

Toe Mike en sy seun gistermiddag by ons aandoen het ek geweet dat hulle die beste gekies het. Gekies het om weer te “bond”. Geen pretensie nie met die ouhoute en kiepersolle en proteas as toeskouers van “time well spent”

Terug by vanoggend. Die sekelmaan bo die oostelike horison het pragtig gelyk met Venus wat so ‘n aks bokant haar op die ekliptika gepryk het. Ek moes uitgaan in die koeler lug om vir Saturnus en Jupiter amper bo ons raak te sien. Dis asof die skerpioen die driemanskap en die maan uit die moregloed getrek het.

Die ketel het gekook en ‘n fancy cuppacino het gewag. Ek is seker dat cuppacinos en OBS net beter proe op n staptog. Niks met die inhoud te doen nie omdat dit uit dieselfde boks en bottel in my kruidenierskas kom. Ek sou my salaris daarop wed dat dit die “ambiance” is wat die truuk op ons smaakpapille speel.

Ek glo dis dit wat ons mis as ons koppe met ander dinge buite die staptog besig is. Henry Thoreau beveel aan in sy boek “Walden”, dat ons eerder ‘n REALOMETER moet aanskaf. Iets wat ons waarsku as ons voeling verloor met mense, met die wêreld en uiteindelik met God self.

Gelukkig was ons teenwoordig hierdie twee dae. Soms moet jy net jou arms uitsteek en Sy genade celebrate.

Categories: Uncategorized | Lewer kommentaar

My ouma het my gesien.

Ek ry nou die dag weer Potchefstroom toe om die naweek met my gesin deur te bring. Ek het my bruid lanklaas gesien en my jongste telg was besig met November eksamens.

Dit was een van daai warm dae wat jy Vrydagdrag mag dra. My vryheid met die keuse van klere was maar ingeperk omdat ek eers n draai by die departement moes maak om daai alewige vorms alweer te gaan ingee. My keuse het geval op n blou denim, Leeus rugbytrui en my bruin DKW skoene. (Dans, kerk en werk). Ek sou bitter graag ‘n kortbroek en tekkies met n netjies gholfhemp wou dra. Ook maar goed.

Met my aankoms in Potch het ek skaars gestop en my vrou gegroet, toe haar telefoon lui. Dis ons jongste wat langs die pad staan. Die scooter het gebreek. Ek klim maar weer terug in die motor en is effens gerus omdat daar n klein yuppie toolboksie en ‘n paar g-klampe in die kattebak lê. Ek is nie ‘n mechanic nie maar ek het deur die jare al bietjie spanners geswaai.

Ek sien al van ver af dat sy daar staan en waai. Pragtig met ‘n vrolike lenterokkie aan en die versneller handvatsel in die hand wat waai. Ek gewaar ook die mannetjie wat skuins agter haar staan met die wit frokkie aan. Ek dink iemand het hom met ‘n nat koerant vroeër die middag hier hoog op sy een arm geslaan. My kind groet eerste en toe volg hy met n verbasende beleefde “goeiemiddag oom. Ek het maar hier gestop want ek wil nie hê enige jafel moet moeilikheid maak met oom se dogter nie” Ek groet terug met ‘n “dankie seun. Ek en die tannie waardeer dit” Hy knik sy kop en draai om en klim in sy kar en verkas dadelik.

Ek parkeer my motor uit die pad uit op die gras sypaadjie net langs die lamppaal. Ek sien toe nou dat die handvatsel waaraan die kabel na die vergasser gekoppel moet word, die skuldige party is. Morsaf gebreek met die kabeltjie wat so ewe kontant hier uit die handvatsel steek. Ek trek aan hom maar daar gebeur niks. Ek besef dat ek hom daar aan die lewe moet kry want anderste moet ek hom die twee kilometer huistoe stoot. Ek sal nie toelaat dat my vrou dit doen nie en my dogter ook nie. Netnou stop daar regte jafels om te “help”.

Met my skrapse tegniese kennis van motorfietse weet ek dat die kabeltjie vashaak. Dis die kabeltjie wat deur die handvatsel getrek word om die petrolvloei te beheer wat weer die spoed van die enjin bepaal. Met ‘n kabel wat vashaak gaan hy nie eers idle nie. Ek sukkel voort met klein spasies en groot woorde en uiteindelik sien ek dat die kabeltjie net afgehak het. Ek moes omtrent die hele scooter strip net om by die vergasser uit te kom. ‘n Paar kneukelvelle en b-woorde later is alles weer aanmekaar en ek toets die kabeltjie. Ja, hy gee nou goed mee as jy hom trek en hy spring mooi stewig terug.

Dadelik besef ek dat ek nie sal kan bestuur met twee hande én die kabeltjie trek nie. Ek onthou toe die g-klampe wat in die kattebak lê. Ek weet ook dat daardie kabeltjie mooi styf getrek kan word met die klamp. So gesê, so gedaan.

Ek het my bril op en ek vra vir haar helmet. Die bril pas mooi maar die helmet is beslis een groote te klein. Dit voel soos ‘n swemkeps van ‘n graad 5 meisie. My vrou giggel en sê dat ek nie so moet frons nie. Ek laat weet haar dat dit die helmet is wat my so druk en dat ek hom nie eers kan vasmaak nie. Net met meer byvoeglike naamwoorde by.

Daardie ding wat mense sê dat jou lewe voor jou afspeel wanneer jy oppad is om die tydelike met die ewige te verwissel is wragtag waar. Plekke, mense en gebeure. In detail!!!!

Ek het die agterbriek getrek, die sleutel gedraai, die aan knoppie opgeskuif en toe die start knoppie gedruk.

Die volgende 10 sekondes is nog steeds soos mis voor n spieel met raaisels. Ek kan sekere dinge vaagweg onthou. Die verskriklike pluk aan my nek wat enige shiatsu terapeut sou skaam maak. Die paal wat ek mis en die blou lug. My kar wat ek mis en die doringdraad langs die pad. My ouma wat vir my waai en die huise op die punt van die pad. Die groen gras langs die pad en die swart teerpad met die slaggate in. Ek kan ook onthou dat ek besef het hier is groot marakkas en dat ek van die wilde perd sal moet afkom. Ek het nie bewustelik die groen gras gekies nie maar na die tyd geweet dat genadiglik was gras die eerste en beste keuse. Baie beter as pad of doringdraad of tuinmuurtjie.

Ek is seker my vrou en my dogter dink ek is n skelm ninja. Die vervaardigers sou my vir daai secret ninja genooi het as hulle die per-ongeluk-perfekte-duikrol gesien het wat ek van die fiets gemaak het. Soos ‘n kat van ‘n dak af, land ek so wrintiewaar op my voete. Die ysterperd lê stil langs die doringdraad en al wat ek hoor is die groen helmet wat nog rol in die pad.

My eerste woorde was: “Ek is orraait”. Ek het nie my vrou en my dogter se lagbui waardeer nie maar ek was bly dat nog aan hierdie kant van die Styx was. My afleiding was dat die klamp die krane bietjie te veel oopgedraai het en daarom die terpentyn en donkie effek. My bril het ‘n swakontwerpte draadkar kompetisie tussen die gras gegee en my leeus trui was, soos gewoonlik, ongedeerd. My denim het my bene beskerm en my voete was veilig in leer toegedraai. Ek dink dat my gewone Vrydagdrag my met baie meer lekplekke sou gelaat het. Die kanse is groot dat iemand my gesien het en gedink het:”ja, kyk hoe lekker koop daai ou toppie ‘n plaas omdat hy windgat wou wees”

Uiteindelik is die scooter by die huis en ek kon leef om die storie te vertel. Een van my kollegas vra toe vir my of my ouma daar in Potch bly. Ek sê toe maar dat sy in Port Elizabeth gebly het maar dat sy al in 1994 oorlede is.

Categories: Uncategorized | Lewer kommentaar

Psalm 127 vir onnies (My woorde)

1. As die Here ‘n skool nie bou nie, mors ons net ons tyd. As die Here ‘n skool nie beskerm nie, sal geen noodplan werk nie.

2. Dit sal ‘n ronde nul beteken. Al staan jy vroeg op en gaan slaap laat in die aand nadat jy jou vingers stompies gewerk het en baie rooipenne leeg gemerk het. Weet julle nie dat die Here dit geniet om rustigheid te gee vir die wat Hy liefhet. Hy gee dit terwyl hulle slaap.

3. Kinders is tog die beste geskenk van die Here. Dis ‘n bewys van Sy vrygewigheid.

4. Soos ‘n pylkoker vol pyle op die rug van ‘n vegter. So is kinders vir hulle ouers en onnies.

5. Dit gaan goed met ons omdat ons hierdie pragtige pyle het. Ons hoef vir niks bang te wees nie. Al die boewe kan gelyk kom maar dit sal nie ‘n duik in ons liefde vir hulle maak nie.

Categories: Uncategorized | 1 Kommentaar

Psalm van Jan 6

O Here vas en waar. U teenwoordigheid omring my soos die wolke wat die reen gee. U nabyheid is die jassie in die koue. U is die koel lafenis in die hittige son. By U alleen word ek gerecharge.

U skitter met al die fasette van n gepoleerde diamant. My eie belewenis van U wissel omdat ék wisselvallig is. U is die een wat konstant daar is met onmeetlike liefde vir my. U is my Ware Noord.

U liefde deur Jesus is my lig en voorbeeld in hierdie wêreld. My taak is duidelik en my visie is helder omdat Jesus dit kom wys het.

Dankie vir U altyd-daar-wees. My krag wat ek het kom van U af. Díé geskenk is wat U bedoel het vir my lewe….die goedheid vir ander mense.

U is my Here en Leidsman.

Categories: Uncategorized | 3 Kommentaar

Ons het díé medisyne.

Ek weet nie of jy dit so beleef nie maar daar is soms hierdie “defining moments” in jou lewe wat jou sig net momenteel 100 voudig verbeter. Ek praat nie van die vergroting van jou pupille wat die vloei van fotone na jou retina vermeerder nie. Nee, ek praat van n eweskielike duidelikheid van jou lewensvisie.

Dis daardie tye wat alles wat jy reg doen of gedoen het, oombliklik uitstaan soos padpredikant op n Noord-kaap pad.

Image result for forl in the road

Ek dink dis daardie momente wat die hoopvolles van die hopeloses skei. Die vurk in die pad het net twee paaie en dis daardie gebeurtenisse of ontmoetings of gewaarwordings wat ons dwing om te kies watter pad ons wil aandurf.

Shakespeare het dit lankal oordink met:

“to be or not to be? That is the question. Whether it is nobler in the mind to suffer the slings and arrows of an outrageous fortune, or to take arms against a sea of troubles and by opposing end them.”

Ek dink die sea of troubles is beter omdat jy gekenter word deur vuur van ondervinding wat jou louter van oortollighede. Ek dink die evangelieskrywer het dit bedoel toe hy gepen het dat ons die sondes moet aflê. Jesus nooi ons dan self uit om ons laste na Hom te bring.

‘n “outrageous fortune” gaan ons niks ryker maak nie maar armer. Net wat jyself vermag het gaan waardevol wees. Skatte van die hemel.

Geskenke en erfporsies en omkooppakette kan gesteel en gevat en verminder word. Suksesvolle reis op jou eie lewenspad kan deur geen kwaad gedeprisieer word nie. Dis skatte wat bestand is teen mot en roes.

Ek weet dat God bedoel het dat ons van Genesis 1 al sy verteenwoordigers op aarde sal wees. Dit beteken om te doen wat Hy sou gedoen het. Net om dit duideliker te stel toe stuur Hy sy enigste seun om vir ons fisies te wys hoe kan dit lyk om iemand lief te hê wat dit nie naastenby verdien nie.

Stef Bos sing baie mooi wat die kuur is vir die wêreld se kwaad. Hy sing:

“Ek sien hoe lande hulself verskeur en ek voel die kanker van sinisme.

Ek sien die mense sonder drome en hul vlug na goedkoop aandag.

En in die ontevrede stede jaag die haat deur ou strate.

Dit dreig en kom al nader.

Maar ek, ek het die regte medisyne:

Ek is lief!!!!!”

Image result for i am loved

Ja, ek is geliefd. Ek sien liefde en skep dit. Ek het die vryheid om liefde te kies. Ek is nie gevangene van reaksie nie want ek is “responsible”. ABLE TO RESPOND!!!!!

My keuse met vandag se vurk in die pad is liefde. Liefde wat alle verstand te bowe gaan en skyn in donker plekke waar lig lanklaas geval het. Dit is nie ‘n maklike taak nie maar Jesus se voorbeeld en die Heilige gees in ons en die tydlose liefde van die Vader maak dit makliker.

L’ amour ca fait chanter la vie!!!!!!

DIE LIEFDE LAAT DIE LEWE SING.

Kom sing saam want dis die regte medisyne.

Image result for heart shaped pills

Categories: Uncategorized | 1 Kommentaar

Vereistes vir my dogters se mans

As jy n man soek, soek ‘n ou wat ‘n groot wildsplaas het. As hy nie ‘n plaas het nie, moet hy ten minste diep in die sessyfers per jaar verdien. As hy nie soveel verdien nie, moet hy regtig ‘n baie bekende en populêre persoon wees. As hy maar onbekend is moet hy maar goed met sy hande kan werk. As hy nie met sy hande kan werk nie, moet hy beslis onvoorwaardelik lief vir jou wees. Hy moet jou nonsens kan opvreet en altyd in jou bly glo. Ook in die tye wat jy dit nie self doen nie. Hy moet selfs ‘n zozo hut soos ‘n huis laat voel en ‘n dorpserf soos ‘n kalahariplaas. Hy moet met sy karige salaris jou nog steeds eerste stel en bekend wees daarvoor hoe jy hom bekoor. Hy moet ten minste probeer om iets reg te maak al kry hy dit nie reg nie. Hy moet defnitief nie maak asof hy jou nonsens opvreet nie. Hy moet soms sê sorry al is dit jou skuld.As hy hierdie laaste goed nie kan of wil doen nie……..

SORRY VIR HOM!!!

Categories: Uncategorized | 3 Kommentaar

Kontak met die wingerdstok

Image result for wingerdstok

Die konstante kontak met die wingerdstok van Johannes 15, is nie net ‘n verbintenis wat lukraak gebeur nie. Dit is ‘n ingeworteldheid met ‘n ware simbiose tusen die loot en die stok. Dit impliseer n interafhanklikheid en ‘n wedersydse verantwoordelikheid om mekaar te voed. Die loot met die chlorofil verskaf die stysel wat in die blare geproduseer word en die sigbare groei verteenwoordig. Die loot voed die plant tot voordeel van al die ander lote en die stok. die stok verskaf die nutriente.

Image result for ent van lote

Die wingerdmeester lei die lote om op die beste moontlike plek te wees om maksimum bydrae te lewer tot die plant. Die “setting” van die lote is die uiterste liefde van die meester omdat dit die plant help om heerlike vrugte te dra.

Image result for wingerdstok

Ons verbintenis met God moet deur hierdie metafoor juis nie net ‘n aktiwiteit van ons lewe wees nie maar ‘n lewenswyse.

Categories: Uncategorized | 2 Kommentaar

Psalm van Jan 5


U liefde is onmeetbaar groot

en red my van gewisse dood.

dit wys my hoe om lief te hê

wat baie meer is as net sê.

 

U draai my denke en my dade

en vul my reise met genade.

U voorbeeld is my ware Noord

met vrugte uit die hemelboord.

 

Kom snoei my met ‘n sagte hand

en hou my burger van u land.

Vergewe tog my dom gebed.

My wese weet: NET U KAN RED!!

Categories: Uncategorized | 4 Kommentaar

Ek verlang na my maatjies

Hier sit ek nou weer rustig na ‘n great kerk ontmoeting met ‘n vol gemoed oor die week en ‘n heerlike opgewondenheid in my.

Almal wat al ooit einde van die maand ‘n PT broek aangetrek het en ‘n honderd rand noot in een van die sakke gevind het sal weet waarvan ek praat as daar ‘n heerlike meevallertjie jou pad kruis. Hierdie meevaller is die 33ste reünie van Hoërskool Vorentoe in Johannesburg se matriekgroep. Dis ‘n meevaller omdat ons mos eintlik bargain op 10, 20, 30 en maybe 40 of 50. Hierdie is so lekker soos ‘n Sondagmiddag koffie waar daar dan ‘n braai uitbreek. Miskien ook soos iemand wat nie wyn drink nie (ek ken maar min van hulle) wat vir jou ‘n bottel wyn as geskenk saambring wat hy uit sy pa se kelder geneem het wat dan blyk ‘n 1965 KWV Port te wees met die goue “superieur” label nog intakt.

Ek hoop, nee ek weet, dat dit ‘n baie gesellige bymekaarkom gaan wees. Die Whatsapp het behoorlik gekekkel en gekraai. Net die sien van ‘n naam het onmiddelik ‘n Tsunami van gedagtes laat opwel wat aangespoel het teen die kus van my herinneringe. Opgewonde is nie die woord wat ek wil gebruik om my gevoel uit te druk nie. Miskien eerder: EKSTATIES. Die nuanses is soveel meer as opgewonde omdat ek dit tussen die lyne kan lees wanneer die Whatsapp so vrolik lui.

Grappies en ligsinnighede is aan die orde van die dag, maar dis mos hoe ons ge-operate het. Ons het al lankal in die lewe skoolgeld betaal om soms bietjie laf te raak . Die lekker grappies, die fotos en die telefoonnommers het maar net die water getoets vir die eintlike kontak. Die spirituele stuff en die bemoediging onder mekaar wys dat ons al wesenlik gevorder het op ons aardse paadjie. Die paadjie wat soms alleen was en soms eensaam en soms beide.  ‘n Paadjie wat nooit as te nimmer maklik was nie. Die opdraendes en die afdraaipaadjies se merke sal nooit vir ‘n geoefende oog weggesteek kan word nie. Nie eers agter die vertoon van boodskappies nie. Dit is merke wat deur ons wesens loop en wat soms wegkruipertjie speel tussen die woorde wat ons met ander deel.

Ek sien uit daarna om elkeen weer te sien omdat ek weet dat ons almal maar normaal is. Normaal in die sin dat ons ook maar elke dag in die sweet van ons aangesig ons brood verdien. M.Scott Peck se eerste woorde in sy boek “The road less travelled” is nie verniet: “Die lewe is moeilik” nie. Ons almal van daardie jaar weet dat die lewe vrek moeilik is maar dat daar juwele is wat dit M-A-K-L-I-K-E-R maak. Juwele, soos vriende en kinders en huise en kerke en sekelbosvure en brandewyn en coke. Enige van hierdie troefkaarte in die kaartspel van die lewe is sekerlik waardevol genoeg om gebeurtenisse so te bewillig dat ons paaie met hulle meer gereeld kruis.

Ek kan sien dat daar ‘n hongerte is vir byeen wees. Reunie beteken mos: WEER EEN. So hier en daar steek ‘n verdwaalde vrees sy kop uit in my gedagtes dat ek skrikkerig is dat my lewe nie altyd so glamourous uitgedraai het om almal te oorspeel nie. Gelukkig verdwyn dit vinnig as ek raaklees dat ek nie die enigste een is wat hierdie vrese oordink nie. Dit sal goed wees as elkeen kan sê waar hy of sy NOU is. Nie om ander te beïndruk nie maar om jou eie plek in die lewe weer te evalueer. Ons sal ure kan gesels oor die verlede omdat baie van ons meeste van die tyd daar deurbring. Ons sal die naweek regtig kan geniet en Prediker 8:15 tot volle betekenis kan bring.

Die challenge gaan wees om in hierdie “circle of truth” jou eie drome te kan afstof of bou of ten minste net ‘n fondasie vir die lugkastele te bou. Ek glo dat die klas van ’83 almal hierdie saamwees sal geniet. Ek sien gelukkig ‘n heilige nederigheid in die heen-en-weer boodskappe en weet dat die hoorders van ons stories en geskiedenis en drome die heling sal bring wat net vriende en vure kan bring. Hoorders soos wat Carlos Amanthea oor skryf in sy boek “Lourdes of Arizona” Hy skryf:

“The quiet listener nods, the non-judgemental hearer, there to ease us out of the midnight of feelings, ease us into freedom, with our own words. It is magic. Perhaps as special as the magic we knew that grew in ‘83”

Ek mis ons praatjies en ek mis die grappe. Ek mis die mense maar eintlik mis ek regtig hoe goed ons gevoel het in mekaar se geselskap.

Sien julle die naweek.

Categories: Uncategorized | 2 Kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.