Wie is ek?

Alweer slapeloos! Ja, dis Sondagaand. My voorbereiding is afgehandel, die nuwe vraestelle is opgestel en my toebroodjies is reeds in die yskas en staaeeds ontwyk die slaap my soos ‘n laatkomkind wat heen en weer voor my klas verby drentel. My gedagtes is deurmekaar gelaai van kinders met of sonder probleme. Ek is bekommerd oor almal van hulle. Ja jy’s reg. Ek is ‘n onderwyser en dit is wat ek doen!

Soms ervaar ek myself as ‘n fortuinverteller wat in my eie kristalbal kyk. Ek beleef ‘n Vincent van Gogh vanaf die eerste verfhaal. Ja, ek is daar! Ek sien ‘n klein Einstein erg begeesterd wanneer hy ‘n kopkrapper oplos. Ek is teenwoordig wanner Florence Nightingale ‘n blikke sweetweerder ongemerk in haar maat se tas laat gly omdat sy verstaan dat hulle dit nie kan bekostig nie. Sy gun eenvoudig net nie haar maat hierdie eindelose gespottery nie. Ja, ek vertroetel hierdie ontluikende talent want ek is ‘n onderwyser en dit is wat ek doen!

Twee bakleiende seuns haal ek met graagte uitmekaar en verduidelik aan hulle dat geweld nie die enigste manier is om konflik op te los nie. Twee bakleinde dogters staan ek eerder terug want dit kan ‘n lelike ding wees. Ek sleep maar na die tyd die stukke wat oorbly na die noodhulptannie toe. NOOIT!! Ek is nie jou ma, pa, ousie, predikant, sielkundige, dokter, biegvader of maat nie, alhoewel ek in elk geval hierdie rolle moet vervul. Ek wil hê dat dit met jou moet goed gaan want ek is ‘n onderwyser en dit is wat ek doen!

‘n Bouer bou, ‘n verwer verf, ‘n prediker preek en ‘n leermeester leer. Ek is ‘n meester in die kuns van verduideliking en verander in ‘n oogwink die begrip “moeilik” na “maklik” want ek is ‘n onderwyser en dit is wat ek doen!

Ek weet wanneer om te antwoord en wanneer om wat te vra. Weet jy? Dis ‘n goeie vraag nê, wat dink jy? Ek wil hê dat jy moet dink en beleef hoe die denke jou vrymaak van die boeie van onkundighid. Ek help jou graag want ek is ‘n onderwyser en dit is wat ek doen!

Ek weet wat jy kan doen daarom maak ek jou doen wat jy doen en is ek nie met minder as jou uiterste beste tevrede nie want ek is ‘n onderwyser en dit is wat ek doen!

Vroegoggend tik ek die laaste deel van een of ander kennisgewing sonder om die “spellchecker” te gebruik want onnies maak mos nie foute nie. Gereeld klink so ‘n kennisgewing dan as volg: “Al die leerders wat Hoerskool (sonder die deeltekens) toe gaan moet betyds om 735 uur in die vierkant bymekaar kom. Die graad 3, 4 en 56 moet hul histeriese oorsig oor die kaap se slowehondel more ingee”. Omdat ek self foute maak verstaan ek die foute wat per ongeluk insluip. Ek weet dat alle foute en mislukkings nie sleg is nie en weet dat die positiewe kant van die munt die ervaringskat in jou lewe tienvoudig verhoog. Ek kan nie mislukkings en teleurstellings keer en voorkom nie maar ek is daar om jou te bemoedig en keer dat dit jou moedeloos maak want ek is ‘n onderwyser en dit is wat ek doen!

Eintlik is ek ‘n wegwyser. Ja, ‘n tipe navigator wat die pad tussen baie hindernisse moet karteer na die fontein van kennis. Al staan hulle langs die fontein, drink almal nie van sy heerlike water nie want sommiges gorrel maar net. My grootste uitdaging is om almal te laat wíl drink want ek is ‘n onderwyser en dit is wat ek doen!

Ek weet wanneer om jou te help en wanneer om jou te los om te sukkel, omdat die sukkel jou nie doodmaak nie maar grootmaak. Nie dommer nie maar slimmer, nie luier nie maar flukser. Ek sien dat jy sukkel en ek los jou veilig want ek is ‘n onderwyser en dit is wat ek doen!

Ek weet dat argitekte se skeppings wat mooi beplan word en ingenieurs se projekte wat afgehandel word vir eeue kan hou. Die werk wat ek doen is iets wat met die nodige liefde en ontferming tot in die dieptes van die ewigheid sal resoneer. Die invloed van my werk is oneindig omdat dit nie net die volmaak van ‘n emmer is nie maar die aansteek van ‘n vuur wat soos ‘n veldbrand versprei. Dit is nie die inpomp van kennis nie maar die plant van ‘n saadjie wat hunker na eie kennis. Die kind is die blom en ek is die tuinier want ek is ‘n onderwyser en dit is wat ek doen!

Ek het geleer dat ek kan trots wees op my ryke ervaringskat van die verlede, terwyl my hede ‘n uitdagende, opwindende avontuur bly, gevul met vreugde, omdat ek met die toekoms werk, want ek is ‘n onderwyser en dit is wat ek doen!

Deur Jan Nel met apologie aan Taylor Mali met taalversorging deur Susan du Toit.

2009

30 Kommentaar

30 thoughts on “Wie is ek?

  1. Aangename kennis. 🙂

  2. WIMPIE POTGIETER

    PUIK !!!!!!

  3. Die beste beskrywing oor wat ‘n onderwyser doen wat ek nog ooit gelees het. Baie dankie.

  4. Ja ou baas sout van die aarde

  5. Was daar maar meer sulke onderwysers.

  6. Hanlie

    Mnr Nel. Jy is interessant en duidelik verstaan jy wat jou beroep behels!

  7. Zelda Snyman

    Ek hoor jy verlaat Birchleigh mnr Nel, dit gaan voorwaar ‘n laagtepunt vir almal wees.

  8. Chris.

    Verseker n laagtepunt en tragedie vir BLS,ons gaan jou mis.
    Baie sterkte in Klerksdorp.

  9. Dezi

    MNR, Ja die raasbek Dezi wat mos heel voor sit ek wil ne se dis leke in mnr se klas en mrn is “AWESOME” Ek sien uit na die jaar voorentoe !!!!!!!!

  10. Limoné le Grange

    Ons mnr Jan…

    Ons Parkies se mnr Jan
    het ‘n lekker plan
    as ons dalk sukkel
    help hy ons ontwikkel.

    Hy het Parkies geleer
    sonder om te beseer
    hoe om te sing
    en nog ‘n lekker ding.

    Hy maak hul baie slim
    hul punte begin te klim
    vra vir hom raad
    dan begin hy te praat.

    Oor rugby of krieket
    wys hy hul die “wicket”
    sterkte mnr by die nuwe skool
    groete, Wessies se Gr. 8-sool.

    (Geskryf deur: Limoné le Grange, Parkies Hoofdogter 2012)

    • Ek ken jou nie, maar jou character moet intakt wees en diep loop om nog steeds belang te stel in jou ou skool. Well done!!!!!

  11. Dominique Benade

    Mnr is die awesomeste mnr nog…ek leer elke dag wat ek in mnr se geselskap is leer ek ietsie al is dit klein maar ek wil net vir mnr se baie dankie en ook vir die Here dat mnr by ons skool kan wees!!!

  12. Ey mneer ek love meneer se webblad dis awesme…..TNX vir n awesme jaarQ so ver….

  13. katelyn hughes

    Baie danq meneer vir alles meneer is nie net n onderwyser nie maar praat met ons soos vriende meneer baie danq meneer is die beste!!!!

  14. cherri

    meneer baie danq vir meneer en geduld die here sal meneer seen dat meneer sulke goeie en ordenklike lewe leef en vir ander gelukkig en goed oor hul self voel.. danq meneer 🙂

  15. cherri

    danq vir meneer se liefede en geduld vir kinders die here sal meneer seen meneer lei kinders om die regte te vat baie danq dat mnr so lief vir kinders is die here is net so lief vir mnr 🙂

  16. mnr jou website is awesome dankie

  17. Philip

    So, twee naweke terug hou Kempton Kruin toe mos nou ons jaarlikse kindernaweek. En waar is Mr Nel? Ons hou beplanning dat die biessies bewe. Reel die kombuis, kunstenaars en daar is ‘n gewerskaf van epidermiese proporsies. So rapporteer al wat kindertjies is Vrydag middag vir die groot geleentheid. Selfs jou groot pêl, Johan (Die rooikop seun wat ons almal gryshare gegee het in die verlede), kom na my toe en vra maar waar is oom Jan hierdie jaar? Jou “presence” was verseker gemis; Jan. Soveel dinge wat jy agter die skerms gereel het en die manier hoe jy dissipline toepas was afwesig hierdie jaar. Die naweek was ‘n groot sukses op die ou einde, maar ons het gespartel om jou groot skoene vol te staan. Groete en baie voorspoed vir julle daar in Potch.

  18. Belinda Tredoux

    Jan, baie dankie dat ek hierdie pragtige stuk kon lees! Mag ek vra of ek dit mag dupliseer en vir elke onderwyser in ML Fick, Potchefstroom gee om te lees? n Mens voel so een met dit wat jy geskryf het, soms ontbreek al die woorde net. Natuurlik sal ek jou naam daar by hou as skrywer daarvan.

    Hoor graag van jou

  19. Meneer is awesome en cool . Ek is baie bly Ek ken meneer.

  20. Zandre Strydom

    Meneer ,die tweede man op die maan was Buzz Aldrin

  21. So bly om jou hier raak te lees! Wat ‘n voorreg!

  22. christien

    Mnr Nel….jy is ‘n inspirerende onnie! Ook vir my as ‘n onderwyser. Dankie!

  23. Marlize

    Met die dat daar hierdie week ‘n hyskraan gebou moet word en ek nie regtig tegnies aangele is nie (en lyk my ook nie my grd 7 dogter nie), wend ek my toe maar tot die internet! En hier lees ek van hierdie Mnr. NEL!!! Wow wat moet ons maak om ook hier in die Kaap so ‘n onderwyser of 2 te kan kry? Kyk ons onderwysers is oulik, maar voorwaar, hierdie Mnr Nel is uitmuntend!!! Voorwaar ‘n aanwins vir enige skool en so dankbaar vir hierdie internet web blad wat Mnr Nel vir ons almal moontlik maak om ‘n stukkie van jou toegewydheid te kan ervaar!!!! Wens net ek het jou vroeer raak gegoogle!!!!

  24. Klara Vermaak (Botes)

    Ek was in die bevoorregte posisie gewees om Mnr Nel as onderwyser te he iewers in die ’90s lol. En vandag maak dit my moeder hart so opgewonde dat my seuntjie ook die voorreg het om mnr Nel te he om na op te kyk. Dankie mnr Nel vir jou groot inpak op elke klein mensie!

    • Ek was bevoorreg om jóú in my klas te hê. Onthou altyd dat ons mekaar maar vorm. Ek het jou altyd admireer vir jou stil, gemaklike manier van doen. Nou is ek dubbel geseënd. Die bybel praat van mense wat geseënd is as die wat hul kindskinders sien. As ek vir die kinders wat by my klas gekry het se kinders klasgee, weet ek dat die Here my seën

  25. Linda Opperman

    Jan Nel jy pos te min. Skryf nog ‘seblief. Hou van jou denkwyse en gemaklike manier van skryf.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: