My ouma het my gesien.

Ek ry nou die dag weer Potchefstroom toe om die naweek met my gesin deur te bring. Ek het my bruid lanklaas gesien en my jongste telg was besig met November eksamens.

Dit was een van daai warm dae wat jy Vrydagdrag mag dra. My vryheid met die keuse van klere was maar ingeperk omdat ek eers n draai by die departement moes maak om daai alewige vorms alweer te gaan ingee. My keuse het geval op n blou denim, Leeus rugbytrui en my bruin DKW skoene. (Dans, kerk en werk). Ek sou bitter graag ‘n kortbroek en tekkies met n netjies gholfhemp wou dra. Ook maar goed.

Met my aankoms in Potch het ek skaars gestop en my vrou gegroet, toe haar telefoon lui. Dis ons jongste wat langs die pad staan. Die scooter het gebreek. Ek klim maar weer terug in die motor en is effens gerus omdat daar n klein yuppie toolboksie en ‘n paar g-klampe in die kattebak lê. Ek is nie ‘n mechanic nie maar ek het deur die jare al bietjie spanners geswaai.

Ek sien al van ver af dat sy daar staan en waai. Pragtig met ‘n vrolike lenterokkie aan en die versneller handvatsel in die hand wat waai. Ek gewaar ook die mannetjie wat skuins agter haar staan met die wit frokkie aan. Ek dink iemand het hom met ‘n nat koerant vroeër die middag hier hoog op sy een arm geslaan. My kind groet eerste en toe volg hy met n verbasende beleefde “goeiemiddag oom. Ek het maar hier gestop want ek wil nie hê enige jafel moet moeilikheid maak met oom se dogter nie” Ek groet terug met ‘n “dankie seun. Ek en die tannie waardeer dit” Hy knik sy kop en draai om en klim in sy kar en verkas dadelik.

Ek parkeer my motor uit die pad uit op die gras sypaadjie net langs die lamppaal. Ek sien toe nou dat die handvatsel waaraan die kabel na die vergasser gekoppel moet word, die skuldige party is. Morsaf gebreek met die kabeltjie wat so ewe kontant hier uit die handvatsel steek. Ek trek aan hom maar daar gebeur niks. Ek besef dat ek hom daar aan die lewe moet kry want anderste moet ek hom die twee kilometer huistoe stoot. Ek sal nie toelaat dat my vrou dit doen nie en my dogter ook nie. Netnou stop daar regte jafels om te “help”.

Met my skrapse tegniese kennis van motorfietse weet ek dat die kabeltjie vashaak. Dis die kabeltjie wat deur die handvatsel getrek word om die petrolvloei te beheer wat weer die spoed van die enjin bepaal. Met ‘n kabel wat vashaak gaan hy nie eers idle nie. Ek sukkel voort met klein spasies en groot woorde en uiteindelik sien ek dat die kabeltjie net afgehak het. Ek moes omtrent die hele scooter strip net om by die vergasser uit te kom. ‘n Paar kneukelvelle en b-woorde later is alles weer aanmekaar en ek toets die kabeltjie. Ja, hy gee nou goed mee as jy hom trek en hy spring mooi stewig terug.

Dadelik besef ek dat ek nie sal kan bestuur met twee hande én die kabeltjie trek nie. Ek onthou toe die g-klampe wat in die kattebak lê. Ek weet ook dat daardie kabeltjie mooi styf getrek kan word met die klamp. So gesê, so gedaan.

Ek het my bril op en ek vra vir haar helmet. Die bril pas mooi maar die helmet is beslis een groote te klein. Dit voel soos ‘n swemkeps van ‘n graad 5 meisie. My vrou giggel en sê dat ek nie so moet frons nie. Ek laat weet haar dat dit die helmet is wat my so druk en dat ek hom nie eers kan vasmaak nie. Net met meer byvoeglike naamwoorde by.

Daardie ding wat mense sê dat jou lewe voor jou afspeel wanneer jy oppad is om die tydelike met die ewige te verwissel is wragtag waar. Plekke, mense en gebeure. In detail!!!!

Ek het die agterbriek getrek, die sleutel gedraai, die aan knoppie opgeskuif en toe die start knoppie gedruk.

Die volgende 10 sekondes is nog steeds soos mis voor n spieel met raaisels. Ek kan sekere dinge vaagweg onthou. Die verskriklike pluk aan my nek wat enige shiatsu terapeut sou skaam maak. Die paal wat ek mis en die blou lug. My kar wat ek mis en die doringdraad langs die pad. My ouma wat vir my waai en die huise op die punt van die pad. Die groen gras langs die pad en die swart teerpad met die slaggate in. Ek kan ook onthou dat ek besef het hier is groot marakkas en dat ek van die wilde perd sal moet afkom. Ek het nie bewustelik die groen gras gekies nie maar na die tyd geweet dat genadiglik was gras die eerste en beste keuse. Baie beter as pad of doringdraad of tuinmuurtjie.

Ek is seker my vrou en my dogter dink ek is n skelm ninja. Die vervaardigers sou my vir daai secret ninja genooi het as hulle die per-ongeluk-perfekte-duikrol gesien het wat ek van die fiets gemaak het. Soos ‘n kat van ‘n dak af, land ek so wrintiewaar op my voete. Die ysterperd lê stil langs die doringdraad en al wat ek hoor is die groen helmet wat nog rol in die pad.

My eerste woorde was: “Ek is orraait”. Ek het nie my vrou en my dogter se lagbui waardeer nie maar ek was bly dat nog aan hierdie kant van die Styx was. My afleiding was dat die klamp die krane bietjie te veel oopgedraai het en daarom die terpentyn en donkie effek. My bril het ‘n swakontwerpte draadkar kompetisie tussen die gras gegee en my leeus trui was, soos gewoonlik, ongedeerd. My denim het my bene beskerm en my voete was veilig in leer toegedraai. Ek dink dat my gewone Vrydagdrag my met baie meer lekplekke sou gelaat het. Die kanse is groot dat iemand my gesien het en gedink het:”ja, kyk hoe lekker koop daai ou toppie ‘n plaas omdat hy windgat wou wees”

Uiteindelik is die scooter by die huis en ek kon leef om die storie te vertel. Een van my kollegas vra toe vir my of my ouma daar in Potch bly. Ek sê toe maar dat sy in Port Elizabeth gebly het maar dat sy al in 1994 oorlede is.

Categories: Uncategorized | Lewer kommentaar

Artikel navigasie

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: