Ek verlang na my maatjies

Hier sit ek nou weer rustig na ‘n great kerk ontmoeting met ‘n vol gemoed oor die week en ‘n heerlike opgewondenheid in my.

Almal wat al ooit einde van die maand ‘n PT broek aangetrek het en ‘n honderd rand noot in een van die sakke gevind het sal weet waarvan ek praat as daar ‘n heerlike meevallertjie jou pad kruis. Hierdie meevaller is die 33ste reünie van Hoërskool Vorentoe in Johannesburg se matriekgroep. Dis ‘n meevaller omdat ons mos eintlik bargain op 10, 20, 30 en maybe 40 of 50. Hierdie is so lekker soos ‘n Sondagmiddag koffie waar daar dan ‘n braai uitbreek. Miskien ook soos iemand wat nie wyn drink nie (ek ken maar min van hulle) wat vir jou ‘n bottel wyn as geskenk saambring wat hy uit sy pa se kelder geneem het wat dan blyk ‘n 1965 KWV Port te wees met die goue “superieur” label nog intakt.

Ek hoop, nee ek weet, dat dit ‘n baie gesellige bymekaarkom gaan wees. Die Whatsapp het behoorlik gekekkel en gekraai. Net die sien van ‘n naam het onmiddelik ‘n Tsunami van gedagtes laat opwel wat aangespoel het teen die kus van my herinneringe. Opgewonde is nie die woord wat ek wil gebruik om my gevoel uit te druk nie. Miskien eerder: EKSTATIES. Die nuanses is soveel meer as opgewonde omdat ek dit tussen die lyne kan lees wanneer die Whatsapp so vrolik lui.

Grappies en ligsinnighede is aan die orde van die dag, maar dis mos hoe ons ge-operate het. Ons het al lankal in die lewe skoolgeld betaal om soms bietjie laf te raak . Die lekker grappies, die fotos en die telefoonnommers het maar net die water getoets vir die eintlike kontak. Die spirituele stuff en die bemoediging onder mekaar wys dat ons al wesenlik gevorder het op ons aardse paadjie. Die paadjie wat soms alleen was en soms eensaam en soms beide.  ‘n Paadjie wat nooit as te nimmer maklik was nie. Die opdraendes en die afdraaipaadjies se merke sal nooit vir ‘n geoefende oog weggesteek kan word nie. Nie eers agter die vertoon van boodskappies nie. Dit is merke wat deur ons wesens loop en wat soms wegkruipertjie speel tussen die woorde wat ons met ander deel.

Ek sien uit daarna om elkeen weer te sien omdat ek weet dat ons almal maar normaal is. Normaal in die sin dat ons ook maar elke dag in die sweet van ons aangesig ons brood verdien. M.Scott Peck se eerste woorde in sy boek “The road less travelled” is nie verniet: “Die lewe is moeilik” nie. Ons almal van daardie jaar weet dat die lewe vrek moeilik is maar dat daar juwele is wat dit M-A-K-L-I-K-E-R maak. Juwele, soos vriende en kinders en huise en kerke en sekelbosvure en brandewyn en coke. Enige van hierdie troefkaarte in die kaartspel van die lewe is sekerlik waardevol genoeg om gebeurtenisse so te bewillig dat ons paaie met hulle meer gereeld kruis.

Ek kan sien dat daar ‘n hongerte is vir byeen wees. Reunie beteken mos: WEER EEN. So hier en daar steek ‘n verdwaalde vrees sy kop uit in my gedagtes dat ek skrikkerig is dat my lewe nie altyd so glamourous uitgedraai het om almal te oorspeel nie. Gelukkig verdwyn dit vinnig as ek raaklees dat ek nie die enigste een is wat hierdie vrese oordink nie. Dit sal goed wees as elkeen kan sê waar hy of sy NOU is. Nie om ander te beïndruk nie maar om jou eie plek in die lewe weer te evalueer. Ons sal ure kan gesels oor die verlede omdat baie van ons meeste van die tyd daar deurbring. Ons sal die naweek regtig kan geniet en Prediker 8:15 tot volle betekenis kan bring.

Die challenge gaan wees om in hierdie “circle of truth” jou eie drome te kan afstof of bou of ten minste net ‘n fondasie vir die lugkastele te bou. Ek glo dat die klas van ’83 almal hierdie saamwees sal geniet. Ek sien gelukkig ‘n heilige nederigheid in die heen-en-weer boodskappe en weet dat die hoorders van ons stories en geskiedenis en drome die heling sal bring wat net vriende en vure kan bring. Hoorders soos wat Carlos Amanthea oor skryf in sy boek “Lourdes of Arizona” Hy skryf:

“The quiet listener nods, the non-judgemental hearer, there to ease us out of the midnight of feelings, ease us into freedom, with our own words. It is magic. Perhaps as special as the magic we knew that grew in ‘83”

Ek mis ons praatjies en ek mis die grappe. Ek mis die mense maar eintlik mis ek regtig hoe goed ons gevoel het in mekaar se geselskap.

Sien julle die naweek.

Categories: Uncategorized | 2 Kommentaar

Artikel navigasie

2 thoughts on “Ek verlang na my maatjies

  1. Andre

    Mooi blog

  2. Sanette Bezuidenhout

    Soms is ‘n mens skrikkerig vir so ‘n reunie. Dan loop jy daardie een vriendin raak wat al jou vrese laat verdwyn en jul kuier asof daar geen daag intussen verloop het nie. Lag saam oor herhinneringe…”Onthou jy daardie meisie met die hare, sy is nou …” , ” Dit is mos die ou met die neus wat …” Met ‘n tikkie weemoed gaan jy terug huis toe, maar ook met dankbaarheid oor ou bande wat weer opgetel is.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: