My eerste gewaarwording van ‘n dag en die einde daarvan kom maar van kleintyd af en was maar gewoon daardie kosbare tyd waar jy opstaan in die oggend en nie kan wag om te kan speel nie. Dit is dan ook die lekkerste speeldae wat klaarblyklik die kortste was. Ek kon vroeër baie van daardie dae sien in my jongste telg se daaglikse roetine. Speel uit die bed uit, speel deur die oggend,speel die hele middag en dan in die aand ook. Sy het nie saans na haar bed toe gestap en gaan slaap nie, sy het tot by haar bed gespeel en daar inmekaargesak tot die volgende oggend.
Ek hunker na daardie dae toe alles so met passie gedoen is. Die woorde wat Susan Boyle so mooi sing in ‘n uitreksel uit “Le Miserables” som die passie van jonkwees uiters getrou op:
”I dreamed a dream in time gone by,
When hope was high and life, worth living.
I dreamed that love would never die,
I dreamed that God would be forgiving.
Then I was young and unafraid,
And dreams were made and used and wasted.
There was no ransom to be paid,
No song unsung, no wine, untasted.”
Ons het alles probeer en soms seergekry maar tog geleer. Ons het geleer dat daglig kosbaar is. Of dit nou was vir buitespeel en of dit later die onomkeerbare aandklok van die sakkende son was, sal ek moeilik uit kan kies.
Dit is net so dat sekere dae net korter as ander gevoel het. Soms was dit korter omdat dit winter was, maar ek praat van die lekker dae wat kort was en dan die daaropvolgende dag net nooit einde kon kry nie. Wanneer jy jou dae op ‘n mooi plek spandeer dan maak jy die lekker kort dae langer deur alles om jou ekstra fyn waar te neem.
Ons vertrek Vrydag op ‘n Rugbytoer met ons O/11 en 1e spanne na wat ons in die wolfpack al “Birchleigh se Avontuur-, Rugby-, Netbal-, Leiers- en jagkamp” noem. Ja jy het reggeraai. Ons gaan Saterdagoggend wakkerword in die hartjie van die bosveld op die gronde van JUBAWENI sport- en avontuurskool. Hierdie is nou werklik die plek waar dit nie moeilik is om die dae te rek nie. Elke moontlike geleentheid word gebruik om die murg uit die dag te suig.
Die dae hier speel soos ‘n simfonie, wat deur die groot meester gekomponeer is, af. Die prelude van die simfonie is elke dagbreek as jy wakker word en eers besef wanneer jy uit die bed klim, jy is nie by die huis nie. Die beddens daar voel soos ‘n liefdevolle moeder wat jou saggies in die aand toevou teen haar boesem en jou met sagte natuurklanke op droomlandvaart stuur. Klaasvakie glimlag elke aand omdat hy bitter min slaapsand nodig het om die nodige wegstuur werk op die wieke van die slaapwind te doen.
Die reuk van die vorige aand se sekelbosvuur sit nog welig ingeweef in jou hare en dis net die aroma van filterkoffie, wat alreeds staan en kook, wat enigsins kan kompeteer daarmee. Die fris oggendlug met nog ‘n nagkoue fluister, herrinner jou gewoonlik daaraan dat die somer verby is en dat die russeisoen van die natuur in aantog is.
Wanneer die heerlike ontbyt van eiers, spek, roosterbrood, pap, boerewors, brood met vyekonfyt en nog ‘n koppie koffie sy weg teen jou slukderm af gevind het, tel die JUBAWENI simfonie bietjie meer spoed op. Ek hoor net die viole wat ‘n vrolike allegro in A Majeur speel en die tiptolle en katlagters wat die sagte cello’s aanvul met hul suiwer aankondiging van die oggend.
Soos die prelude net ‘n voorspel is tot groter werke is die oggend die voorspel van die dag. Die temperatuur tel net so vinnig spoed op as die simfonie en kort voor lank is die hele orkes deel van die hoofwerk. Alles word hier met passie gedoen. Die afrigting, die fasilitering en die aanbied van die self as hulpmiddel.
Net die middagete wat op die regte tyd kom ,(My maag dink gewoonlik teen daardie tyd dat my slukderm geamputeer is) bring ‘n meer gestadigde pas aan.
Die natuurorkes tel na ete weer spoed op en teen vieruur bulder die pouke en al die koperblaasinstrumente saam teen ‘n tempo en Mineurtrant wat my erg herriner aan Rossini se “William Tell” Overture se 2e beweging. Wedstryde word gespeel en dan leer almal dieselfde les: “Some you win and some you don’t”
Ek vra eenkeer vir Joep (die eienaar) wanneer die beste tyd vir ’n sundowner is. Sy antwoord “wanneer die son die kleur van gesmelte botter is”

Dis net die vloeiende viole wat deel is van elke aand se indrukwekkende sonsondergang by die sandsteen uitstulping vanwaar ‘n mens die hele plaas kan sien. Dis hier waar ek weet dat musiek wat so in die lug rondbeweeg ‘n opening in ‘n komponis se hart sal kry wat oop genoeg is om dit te hoor. Hy sal dit dan kan neerpen in nederigheid in diens van die groot Komponis.

‘n Sagte naspel van ‘n enkele treurige cello verwoord die melankoliese atmosfeer by die kampvuur waar vriendskappe gebou word en bestaande vriendskappe nog hegter gesmee word. Almal se mae is gevul en almal tuur nostalgies na die “Boesman TV” Die winkende melkweg met Orion wat stadig in die weste sak en Antares (Die hart van die skerpioen) wat knipoog deur die groot maroela in die ooste, bring die afronding van die finale van die JUBAWENI dagsimfonie tot ‘n rustige einde wanner elkeen stuk-stuk na sy lêplek beweeg. Al klanke wat laatnag nog eggo van die dag is die egalige asemhaling van moeë en tevrede afrigters wat slaap.

Ek kan nie wag nie. Ek kan nie wag om weer die reuk van die grond langs die rugbyveld te ruik nie. Ek kan nie wag om die eerste skep te eet van Nelia (Mede eienaar) se paptert nie. Ek kan nie wag om Vrydagaand se Sonsondergang te sien nie. Ek kan nie wag om die koel aandlug op my gesig te voel nie. Ek kan nie wag om die naguiltjies weer te hoor roep nie.
Ek hoop die dae is ekstra lank as ons ons vriende weer sien.