Psalm van Jan 2

Vandag het ek ‘n ongelooflike tydjie by die Sondagskool gehad. Die les vir die grootgroep het gehandel oor die feit dat dit goed is vir die mens om God te prys. My kommentaar by Toortsie en berading in die week is eintlik maar selfspraak. ek besef toe vandag dat ons maar almal besig is met hierdie balanseertoertjie. Ek weet verseker dat jy nie ‘n besemstok op jou hand kan balanseer as jy nie opkyk nie!!!!

Op jou eie kan niemand dit doen nie want ons smag na die teenwoordigheid van die groot EK IS in ons lewens. Hier is my smag.

‘n Psalm van Jan 2

 

 

Ek verlang na U

 

Ek verlang na U alleen.

Openbaar uself aan my.

Maak my bewus van U vrede en liefde.

Maak my oë oop vir U werk in my lewe.

 

O, Heilige Trooster,

Weerhou die donkerte oor my gees.

Skyn in elke hoekie van my lewe.

Trek self die onkruid uit in my tuin.

 

My gemak lê by U.

My soeke daarna is verniet

as ek nie by U begin nie.

 

U is my Here, my Verlosser

My MEESTER

Categories: Uncategorized | 1 Kommentaar

Die grense van goeie maniere.

Ons almal is intens bewus van daardie mense wat ons lewe met ons deel wat absoluut die motto verstaan van “live and let live” Dis die mense met goeie maniere. Die mense wat die kuns uitleef om mense te laat goed voel in hulle geselskap. Daniel Goleman se definisie van emosionele intelligensie lui dan ook dat dit die vermoë is vn ‘n individu om die sy eie en ander se emosies te bestuur.

Ek praat nie hier van die lot wat Emsie Schoeman se boek bladsy vir bladsy kan aanhaal nie. Hulle is gewoonlik die bende wat jou gereeld tydens ‘n smaaklike ete, met groot fanfare, daarop wys dat jy nou eintlik nie jou koffie moet regsom roer nie maar eerder linksom. (blykbaar iets te doen met die elmboog aksie oor die ander ou se kullinêre spasie) Hulle sal ook breedvoerig vir die tafel laat weet wanneer dit die regte tyd is om met watter mes en met watter vurk te eet.

Hierdie verskynsel is gewoonlik verantwoordelik dat my selfbeheersing goed getoets word. Dis maar ‘n catch 22. Jy kan nie die etiket-etter aan die tafel uithaal daaroor nie, want dan is jy die een sonder maniere. As jy stilbly, styg jou bloeddruk so 20%. Ek dink die kuns is om te antisipeer wanneer hierdie bloeddruk jou verby die grens van “polite conversation” gaan neem. Jy moet een of ander manier bedink en inbou om te sorg dat jou moermeter dopgehou word. My bruid lig gewoonlik haar een wenkbrou net so effens in die geselskap, dan weet ek dat my deelname aan die gesprek word al skerper en dat ek sal moet briek aandraai.

Daar is ook plekke waar hierdie einste kontrolemeganisme maar eerder by die huis moet bly. Dit is die kere waar mens te doen kry met hierdie buffels in die openbaar.

Ek praat van daardie ou in die lisensiekantoor wat nie verstaan wat ‘n ry beteken nie. Daardie ou wat net gou vinnig vir die beampte ietsie wil vra en dan sommer gou sy sakies wil doen. Hier moet daar tog sekerlik ferm dog beleefd opgetree word. Daar moet egter nie stilgebly word nie ander kan dit dalk verwar word met goedkeuring.

Ek praat van daardie dame wat in die supermark met die trollie in die middel van die paadjie stap en die konsep van spasie vir almal grof verontagsaam. Dit verskaf gewoonlik vir my baie binnepret as ons mekaar die derde keer ontmoet. Die eerste ontmoeting is gewoonlik wanneer haar trollie se vaart gestop word deur my ACHILLES TENDONS. Sy weet dit amper nie eers nie en wys net haar irritasie omdat iemand nou voor haar trollie gestaan het. Van ‘n jammer is daar geen sien van blikkantien.

Die tweede ontmoeting gaan min of meer so: Ons tweetjies kom gewoonlik van weerskante van die paadjie op mekaar afgestap. Elkeen met ‘n trollie. Die verskil is net dat my trollie se funksie is om die kruideniersware te huisves wat ek van die rakke afhaal. Haar trollie is ‘n tenk waarmee sy mense manipuleer om te koes en te keer. Van oogkontak is daar gewoonlik nie sprake nie en gewoonlik besef sy eers wanneer haar trollie-tenk myne “sideswipe” dat daar nie genoeg spasie vir ons altwee s’n was nie. Ek kan haar dan dadelik in daardie kategorie plaas van een wat wil hê dat almal moet padgee vir Cruella de Ville en sy bevestig haar status gewoonlik deur ‘n luide klap van die tong. Die pret kom egter as ons mekaar in die volgende ry raakloop, of sal ek sê RY. Dis hier waar ek bewustelik grense van goeie maniere oorsteek en dan volwaardig “chicken” speel met haar. IN ELKE GANGETJIE. Ek speel nie videospeletjies nie maar ek is seker dat baie mense sal ‘n spel soos “Metro Mania” of “Checkers Chicken” baie geniet. Iemand kan so ‘n speletjie ontwerp vir mans en dames wat meer vaardig wil raak in die kuns van trollie tegnieke en mandjie manewales. My bruid het al baie vir my gevra of ek verveeld is dat ek dit doen. Ek hoef haar nie eintlik te antwoord nie want die steekpyn onder my kuitspier is geoonlik net die sneller wat nodig is om die spel aan die gang te sit.

Ek admireer die mense wat dit regkry om goeie maniere so natuurlik te laat lyk. Dit lyk en voel genuine soos ‘n vars, koel fontein wat uit die persoon uit borrel. Die mooi van dit is dat dit ander mense aansteek om dit ook te doen. Ricardo Reiners en Wahldo Warden wat jou in die oë kyk en met ‘n stewige handruk sterkte vir die dag toewens, val beslis in daardie kategorie. Ek weet dit neem nou tyd in beslag aan die einde van ‘n les omdat al die seuns dit nou al doen. Dit pla my egter gladnie omdat dit tyd is wat goed spandeer is. Hulle energise my en ek laai weer hulle batterye.

Etiket en goeie maniere het dus sy plek en is ‘n noodsaaklikheid om die gang van mense met mekaar te reguleer. Die gees van goeie maniere is nie die blote cliche-groet en die “hoe gaan dit” wat net hol woorde is nie. Dit is die uitreik van een hart na ‘n ander hart. Dit is die terugstaan vir ‘n oomblik sodat die ander siel kan asemhaal. Dit is die hoogste sport van die ou kleuterskool reël wat sê: PLAY NICE!!

Categories: Uncategorized | 6 Kommentaar

Van Vrouens en skoene

Die langnaweek is nou in volle swang en die somer gee sy laaste stuiptrekkings met die kwik wat soos ‘n equalizer op en af spring. Verlede week se koue het my laat besef dat kortbroeke en kortmouhemde nou net funksioneel sal wees in die verre noorde. Die nadeel van die winter wat kom is die dae wat gryser raak maar die verskillende herfskleure maak die afdraende natuurreis meer houbaar. Die lekker snoesige truie en  sekelbos kaggelvure met ‘n klein soet rooi wonderwerk van allesverloren in ‘n glas, raak geleenthede om na uit te sien.

 

Die draai van die seisoen bring ongelukkig ook ander problematiek tevore. Die ding van die klere en die skoene. Ek het vroeer my teorie oor die drie dele van ‘n man se brein op my blog bekendgestel, maar ek het vandag besef dat die ou wat die evasgeslag se brein in twee landstreke gekarteer het, was nie te ver verkeerd nie. Hy beweer dat die moan-/nag-/teem-/druppende kraangebied ‘n redelike persentasie van die primitiewe vroulike brein moes uitmaak. Dit was om te oorleef in daardie vreeslike prehistoriese toestande. (Ek glo dit is ‘n redelike afleiding wat mens kan maak omdat daar nog nooit in enige vindplaas waar ou beskawings opgegrawe is enige teken van vol vuilgoedsakke in die kosmaakarea gevind is nie) Ek reken ook dat daar nuwe navorsing gedoen kan word oor die uiteindelike uitsterf van die amasones. Miskien het hulle versmoor onder al hulle huishoudelike vullis omdat daar geen man in sig was om die sakke uit te dra nie.

 

Net so voordat al my vroulike kennisse hul sterte in ‘n krul kry, moet ek net die saak regstel en hier plaas dat my bruid (mevnel) nie so ‘n deel in haar brein het nie. Haar deel wat baie so lyk is die deel wat weer en weer en weer en weer vra. (no harm in that)

 

Dit bring my by die tweede en baaaaaaaie groter breingebied en dit is daardie sesletter geldverminder woord.

S-K-O-E-N-E

 

Ek het vandag die trippie na die nog ‘n mall meegemaak. Ek het eers gedink dat dit maar ‘n lekker window shopping trip gaan wees waar ons beurte maak in watter winkels ons rondhang. Dit werk gewoonlik so. Edgars, Cape Union Mart, Woolies, Due South, Identity, Fascination Books, Young Designers Emporium, Mr Price Sport, Mr Price Home, Game,Foshini ens, ens, ens, ens. So speel ons die tennis van die mall besoeke.

 

 Vandag was anders omdat ek met die derde winkel besef het ek is 3-0 agter!!!!

 

Die uitstappie was een waar daar gejag is om die perfekte boots te kry. Ek besef dat die maat wat die breinteorie uitgewerk het wragtag hier die spyker op die kop slaan. (met ‘n spykerhakkie) My twee prinsesse en die koningin van die huis is aldrie versot op skoeisel. As hulle na ‘n Jimmy Choo skepping staar dan weet ek dat ek dit al voorheen gewaar het. Dit was in Jacques van Deventer se oë as hy van John Deere praat, of van Hans Labuschagne as hy babbel oor sy Bonsai’s, of van Jaco van den Heever as hy dink aan die jagveld. (Ek het daardie einste trek op my bakkies ook gesien in die spieëls in die vertoonkas van Cape Union Mart se beste snygoed)Dit lyk kompleet of die driemanskap van Bentley Manor op ‘n trip is as hulle deur die verskillende skoene draf. Ek sukkel net self om dit te verstaan maar ek gun dit vir hulle. Dis vir my net so lekker om deur ‘n pantjieswinkel of ‘n tweedehandse boekwinkel te drentel.

 

Skoene het al baie ouens in die moeilikheid gekry. Eintlik is daar net twee redes hoekom skoene ‘n man in die moelikheid kan kry. Of hy het verkeerde skoene gekoop, of die skoene in sy kar behoort nie aan sy vrou nie. Ek het een aand langs ‘n vuur gesit toe een van die grootbekke vertel hoe hy en sy vrou een aand terug ry vanaf een of ander bruilof. Oppad, terwyl hy bestuur, laat val hy sy mansjetknoop langs die sitplek en hy steek sy linkerhand onder die sitplek in om dit op te tel. Tot sy skok voel hy ‘n baie elegante hoë hak skoen. Hy werk die outjie stelselmatig hier na die deur se kant toe en tel hom ongemerk met die regterhand op. Baie strategies maak hy toe sy venster oop omdat hy kwansuis net weer bietjie vars lug in die motor wil kry. Met ‘n gewrig aangee wat Joost van der Westhuizen sou jaloers maak verdwyn die hakgedierte in die bosse langs die snelweg. Ta sit toe lekker terug en slaak ‘n sug van verligting. Toe hulle by die huis kom en vroulief wakker word van die lang aandpad, dink ek nie daar sou ‘n masjien wees wat die adrenalien in sy bloedstroom kon meet toe sy vir hom sê dat haar voete nog seer is van die dansery en dat hy asseblief haar skoene onder die sitplek moet inbring nie.

 

Moenie dink dat ek enigsins kla nie. Nee, ek staaf maar net ‘n waarneming. Diamante is beslis buite my bereik om my vrou mee om te koop, maar ek dink dat ek meer as een punt gaan score as ek die regte paar skoene op moedersdag kan wegsteek in die kruidenierskas. (Vir enige manne wat planne het om enige van my twee dogters te date, kan ek seker maar ook net een woord gee sodat die ouens wat die internet gebruik om blogs te lees, darem ‘n goeie voorsprong sal hê. Die kodewoord is SKOENE )

 

My bruid het van die mooiste voete wat ek nog aan ‘n vrou gesien het (‘n fyn nommer 5). Sy het ‘n aristokratiese brug met tone wat soos fietse cheerleaders dans as sy loop. Ek wonder altyd hoekom sy dit dan nou nie meer  wil tentoonstel nie. Ek weet dat ‘n goeie skoen, wat lekker pas, omtrent soos ‘n goeie voetmassage is. My einste Merrels wat ek gebruik vir die staptoere, dien ongeveer ook daardie doel. Ongelukkig lyk hulle nie soos skoen nie maar eerder soos walking machines.

 

Sharon leef in haar Nike tekkies en laat enige paar bootse sexy lyk. (eintlik enige skoene). Vandag het ek maar my Koning omgegooi in die Mall skaakspel want ek weet dat as die vrouens in my lewe gemaklik en met trots en selfvertroue die pad van die lewe kan loop, met mooi en gemaklike skoene, is die koning weer op sy troon.

 

Vanaand is beslis weer ‘n voetmassage aand.

Categories: Uncategorized | 5 Kommentaar

Psalm van Jan 1

Die Here is my skuilplek

My grootste wens

Is om U as Mens te eer

 met my hart en my lyf,

 weer en weer.

 

Ek weet dat U my ken,

 my hartseer en my wen.

U reddingsdaad verwyder my vuil,

 my kommer en my huil.

 

Ek leef nie net vir vandag

Maar ook by U te wees sonder nag

 U skoot is my skuilplek,

my huis, my huilplek.

 

 U troos……. Ook vir my,

een van U kroos.

Categories: Uncategorized | Lewer kommentaar

Wat blaas jou wiele op?

Hoe gaan dit? Nee, orraait en jy? Ag, ek kan nie kla nie. Ja, wie gaan nou eintlik luister? Nou praat jy die waarheid broer.

Menige gesprekke begin maar so, en wikkel soos ‘n rugbybal tussen seuntjies in die rugby opwarm kring. Eers jy, dan ek. So glip die cliches van een mond na ‘n ander om maar weereens net “gesprek” te maak en nie inspraak te maak nie.

Almal het maar hulle klagtes en elemente wat die wind uit hulle seile neem, hulle go uitslaan, hulle batterye nat piepie en hulle wiele pap maak. Ek sal ure kan aanhou oor frustrasies wat nou eintlik verantwoordelik is vir van die benarde situasies waarin ons onsself soms bevind. Dit sal ‘n mors van papier wees en ‘n mors van asem in maar net nog ‘n cliche-gesprek.

Wat waarde sal toevoeg is as ons miskien die bronne deel waaruit ons inspirasie put. Daardie fonteine waar ons kan le en drink. Daar waar ons weer inspirasie kan kry om daardie einste frustrasies wat ons wiele papmaak aan te durf.

Inspirasie se wortels beteken “om lewe te gee, om asem in te blaas” Ek glo dat die nuwe soeke na inspirasiefonteine ons ogies sal oopmaak om te sien dat daar meer dinge is wat mens inspireer as wat daar is wat jou wiele pap maak.

Ek deel graag my beginlys met julle. Voeg gerus by as ek ietsie misgekyk het. Hierdie is net die begin.

Die volgende inspireer my:

Judelle Engelbrecht se deursettingsvermoë en onblusbare spirit.

 

Laventel bos se lekkerruikspore op my hande.

Jackie Evancho

Philip Nel se permanente placid gemoed.

Hans Labuschagne se BONSAI’s

Die Visriviervallei se grandeur.

Oude Molen en Coke (‘n dubbel)

Ree-ann Knoessen se gemoedelikheid met ‘n blikkie deodorant.

Kosmosblomme.

Sharon se Netbalkennis.

Geenpeace se nooit tanende stryd.

Herman Stebbing se onaantasbare rustigheid.

Chopin se prelude in E Mineur (Opus 28 nommer 4)

Janine Folmer se passie by die gebedsdag.

Bloukaas en Salticrax.

Werner van Blommenstein se toewyding.

Royal Secret.

Thalia se omgee vir mense.

Die kettingleer by Mount Aux Sources.

Mariska Venter se altyd opstaan al is daar skoenmerke op haar rug.

Die Proteas in my tuin.

Denique se hope talent.

Chanel Schutte se ferm, empatiese stem in die rekenaarklas.

Witkruisarende in Walter Sisulu Tuin.

Neels Marais se magic met mense se name.

Die sterre in die karoo.

Johan le Roux se erns waarmee hy luister

Carl Wepener se “verassingskennis”

Blyde Olivier se “Vitamine JC”

200 kinderboodskappe wat gelyktydig opstyg aan 200 balonne.

Categories: Uncategorized | 3 Kommentaar

Ek kan verslaaf raak aan so ‘n Here. (Puik skrywe deur Christina Landman in beeld)

Ek post graag vandag hierdie uitstekende bewoording wat Christina Landman gebruik om God te verwoord. Onlangs geplaas in Beeld Koerant. Dit het my hart gegryp en my mond woorde gegee. Ek plaas dit woordeliks soos dit in die koerant verskyn het. Geniet dit.

Christina Landman

Ek sien nou die dag op televisie ’n man op sy knieë val. Hy sê dankie dat hy so ’n goeie sjef geword het. Dat die Here nou ’n man so goed moet laat kook. Ek dog, dis my Here daai!

Waar is my Here nog, sal julle vra? Ek hoor my Here. Hy praat in die woorde van die dominee wat gesê het: Vat die doopwater wat oorbly en meng sement vir iemand wat nie ’n huis het nie. En vermeerder die nagmaalsbrood om mense se mae vol te maak.

En wanneer die NG Kerk besluit om die pad met Belhar te loop, dan sien ek my Here stap saam. En wanneer my Here duisende mense by die NG Kerk wegraap, dan vra ek Hom of hulle tog nou op ’n beter plek is. En of hulle nie nou in kerke vol bangbroeke is nie, maar saam met God aan die kant van die armes en onderdruktes staan.

Ek vind my Here daar onder die getroue Bybellesers wat elke woord van die Woord koester en in hul hart bewaar. En as ek na die Nuwe Hervormers kyk, dan sien ek ook my Here daar, al lyk hy weliswaar bo 60.

En gaan ek na die Woordfees in Stellenbosch toe, is my Here sowaar ook daar. Ek moes hom egter soek, hoor. Ek soek hom in die boeke oor God wat daar bekend gestel is. Ek soek hom daar saam met die ander soekers, en daar staan ons en soek rond, ons kan nie anders nie.

Ek soek my Here daar waar die ateïste sê hy is, naamlik in niemandsland. Maar daar vind ek nie my Here nie. Die fundamentalistiese, selfversekerde, vreesaanjaende god waaraan die ateïste nie glo nie – dit is nie my Here daai nie. Daardie god waarin hulle nie glo nie, het ek lankal afgesterf. Ek soek hom nêrens nie.

Maar ek hoef nie na ’n boekefees te gaan om my Here te kry nie, nie by die Klein Karoo of CUM, wat al twee op Goeie Vrydag oop is nie. Ek sien my Here in my ma se instrukteur wat aërobiese oefeninge vir mense in rolstoele gee. Ek ruik my Here in die vars sweet van ou liggame.

Ek soek die Here met die jeug wat nie hospitaal toe gaan wanneer hulle nie siek is nie. Ek soek die Here by die jeug wat genesing soek niks nader as die kerk se hoë omheinings nie. En wat nuwe waardes vir hulself uitkreun in ’n wêreld wat ons vir hulle verwoes het.

Ek sien my Here in iemand wat tee maak vir een wat moeg lyk. Ek voel my Here wanneer iemand skielik jou rug masseer as jy nie kan regop kom nie.

Ek het my Here gevind hierdie Paasfees. Nie in die Jesus wat deur bloeddorstige predikers weer terug aan die kruis gehang is nie. Maar in die Christus wat elke keer weer opstaan in gewone plekke en in ongewone mense. Soos in ’n gay wat sy menswaardige plek in die samelewing vind.

En ek sien ook my Here daar waar hy huil, daar waar ons hom nie van die kruis wil afhaal nie. Sy oë huil van die koolstof waarmee ons sy pyn probeer verlig, daar waar hy in die hel van ons verbruikersvraatsug hang.

Maar ek sien ook dat my Here huil omdat die kerk nie sy sosiale kapitaal gebruik nie. ’n Kerk het sosiale kapitaal wanneer hy meer as ’n kerk is.

Wanneer hy nie net Sondag sondesittings het nie, maar sy mensekapitaal deel met die omgewing, met die mense wat hulp nodig het, met die maatskaplike dienste en die regering van die dag.

Hoeka sê politici al hoe meer: ons het die kerk nodig. En dis my Here daai wat maak dat mense hul hande vuilmaak om die ellende van ander minder te maak.

Ek sien my Here daar in die skaduwee op die bodem van die afgrond. Daar waar hy ons met hoop bedwelm.

Ek sien my Here daar by mense wat pyn het waaroor hulle nie mag huil nie. Soos mense wie se kinders hul harte gebreek het. Soos mense wat hul kinders aan dwelms verloor het. Mense wat pyn het wat geheim moet bly.

Aan so ’n Here raak ek maklik verslaaf. Dis my Here daai.

 

Categories: Uncategorized | 4 Kommentaar

Ons eie comfort zone

Hierdie afgelope naweek (Vrydag, Saterdag, Sondag en Maandag) was ek bevoorreg gewees om op een van die mooiste plekke in die land te vertoef. `n oase in die woestyn, `n rusplek vir die reisiger en ‘n lêplek vir die leidendes. JUBAWENI het weer sy plek behou as die nommer een bestemming van die “wolfpack” om aan hulle rugbyvaardighede te slyp en die wolftrop se bande net hegter te smee.

Die beddens slaap heerlik maar uit beginsel neem ek maar altyd my eie kussing saam. Hierdie is nie sommer net ‘n gewone kussing nie. Dis ook nie een van daai anti-snork masjiene nie (My bruid sê dit werk in elk geval nie vir my nie), dis ook nie een van daai anti-allergie foefies nie en dit is ook nie een met spesiale kontoere wat by my nekprofiel moet pas nie.

Die beste beskrywing van die samestelling van my spesiale kussing kom uit die kosbedryf. Hans Labuschagne (KOKWOLF) het dit reggekry om een gastronomiese konsep in my eie lewe te laat betekenis kry. “Al Dente” of in afrikaans – sag, maar steeds ferm. Soos pasta wat deurgekook is maar nog steeds weerstand gee teen die tande (dente). Hy is sag genoeg om my hoof knus te ontvang, maar ferm genoeg sodat ek nie sodanig daarin wegsak dat ek by versmoor moet omdraai nie. Ek kan in elk geval nie bekostig om uurliks in die aand op te kom vir asem nie.

Hierdie kussing kom al ‘n paar jaar saam met my en saam het ons (soos Tom Hanks en Mr Wilson in CASTAWAY) al baie van die uithoeke van ons land trotseer. Ek glo dat dit so ‘n ekstra infantiele sekuriteitsobjek in my lewe is. Eenvoudig gestel: met my kussing by my voel dit soos by die huis. Dis tydens hierdie wegbeweeg van die “huis” af waar ons nogals gekonfronteer word met ons afhanklikheid daarvan. Ons sit so tussen twee vure. Die een noop ons om aan hierdie oeroue “wanderlust” toe te gee en die ander een trek ons na die gerief en sekuriteit van die”huis”

`n Goeie middeweg is om die gerief van die huis saam met jou te neem. Ek neem ‘n kussing saam en Henno van E.G. neem ‘n draagbare perkoleerder saam op staptoere. Elke huis het sy kruis en elke reisiger sy eie kussing of kos. Ons sien gereeld hoe kinders hope lekkergoed en koeldrank saamneem op ‘n bus wanneer hul vertrek vir ‘n kamp. Hoe groter die sekuriteits skok of onsekerheid, hoe vinniger word nie hoop voedsel verorber. Slim ouens meen dit is omdat die inneem van kos endorfiene en seratonien vrystel. (Endorfiene is ‘n hormoon wat pyn verdoof en seratonien is die hormoon wat jou goed laat voel). Dis amper soos ‘n pasient wat self kontrole oor ‘n morfienpompie het.

Die volgorde waarin die “voedsel” in die keelgat verdwyn is min of meer die teenoorgestelde van die volgorde waarin dit gepak is in die padkos sakkie. Gewoonlik is daar nooit eers ‘n oomblik gedink oor die feit dat sekere voedselsoorte net nie bymekaar pas nie. Die yoghurt mannetjies en die chips mannetjies is gewoonlik die eerste outjies wat met ‘n gedempte redekaweling begin. Gewoonlik kan die rusie op sy eie ophou omdat nie een van die twee eintlik gebou is om te baklei nie. Die rusie eskaleer gewoonlik tot ‘n gestampery as die biltong-bende opdaag. Om alles te vererger is daar ‘n paar vet maatjies tussen hulle. Hulle hou nie van die marshmallow-muise se “Hey, wat kyk jy” nie. Die Pepsi-Polisie is maar altyd die laaste wat net na die peanut-peuters opdaag en hulle is bekend daarvoor dat, saam met die geskud van die bus, hulle nie verniet die uitsmyters van die voedselfees genoem word nie.

Die volgorde van verdwyn en die volgorde van verskyn het niks in gemeen nie. As die arme drommel wat die kort vuurhoutjie getrek het vir busdiens se geluksgodin vir hom glimlag, kan dit weer opeindig in die einste verpakking waarmee moeder dit so sorgvuldig, met yskasblokke en al, gepak het. As die godin egter vir hom kwaad is, kan daardie suur reuk hom vir ewig skaad om weer busdiens te doen.

Die verantwoordelikheid om so ‘n ramp se risiko te verminder lê by elke afrigter en ouer. Die afrigter moet die kinders ordentlik inlig oor wat om te verwag en so die ergste edge van die rit of kamp af te haal. Hy moet ook verseker dat daar nie ‘n oormaat kos op die bus geneem word nie. Ouers moet toesien dat hul kinders se sekuriteit lê in realistiese verwagtinge waarin die kind alreeds voldoen het.

Ek is lief vir my kussing en babas is lief vir hulle bersies en die een klein seuntjie op die rugbytoer is lief vir sy hondjiepantoffels. Ons almal is maar ewe kinds. Die resep teen spanning oor die onbekende lê in die diepte van jou verhouding met jou medereisigers. Jou vertroue dat hulle ook saam met jou is, is meer werd as sakke vol kos en kussings en hondjiepantoffels.

 Stephan Bouwer en Anton Goosen se woorde wat Laurika Rauch sing verklaar volkome ons eie comfort zone.

 DIE MENSE WAT EK LIEF HET

KOM GROEI OP MY SOOS MOS

DAAR LAAT EK HUL NA HARTELUS GEDY

EN LOOP EK DEUR DIE WÊRELD

 - BESKUT TEEN DIE KOUE -

DIE SNOESIGHEID SELF:

EK MET MY MOSKOMBERSIE

 

EN AS DAAR ‘N OORLOG KOM

WORD DIE MENSE WAT EK LIEF HET

 ’N EKSTRA LIEFDESLAAG OM MY

SO MARSJEER EK DEUR DIE WÊRELD

GEPANTSER TEEN DIE VUUR

DIE ONAANTASBAARHEID SELF:

 EK MET MY MENSKOMBERSIE

Categories: Uncategorized | 1 Kommentaar

Ek kan nie meer wag nie………….

My eerste gewaarwording van ‘n dag en die einde daarvan kom maar van kleintyd af en was maar gewoon daardie kosbare tyd waar jy opstaan in die oggend en nie kan wag om te kan speel nie. Dit is dan ook die lekkerste speeldae wat klaarblyklik die kortste was. Ek kon vroeër baie van daardie dae sien in my jongste telg se daaglikse roetine. Speel uit die bed uit, speel deur die oggend,speel die hele middag en dan in die aand ook. Sy het nie saans na haar bed toe gestap en gaan slaap nie, sy het tot by haar bed gespeel en daar inmekaargesak tot die volgende oggend.

Ek hunker na daardie dae toe alles so met passie gedoen is. Die woorde wat Susan Boyle so mooi sing in ‘n uitreksel uit “Le Miserables” som die passie van jonkwees uiters getrou op:

 ”I dreamed a dream in time gone by,
When hope was high and life, worth living.
I dreamed that love would never die,
I dreamed that God would be forgiving.
Then I was young and unafraid,
And dreams were made and used and wasted.
There was no ransom to be paid,
No song unsung, no wine, untasted.”

Ons het alles probeer en soms seergekry maar tog geleer. Ons het geleer dat daglig kosbaar is. Of dit nou was vir buitespeel en of dit later die onomkeerbare aandklok van die sakkende son was, sal ek moeilik uit kan kies.

Dit is net so dat sekere dae net korter as ander gevoel het. Soms was dit korter omdat dit winter was, maar ek praat van die lekker dae wat kort was en dan die daaropvolgende dag net nooit einde kon kry nie. Wanneer jy jou dae op ‘n mooi plek spandeer dan maak jy die lekker kort dae langer deur alles om jou ekstra fyn waar te neem.

Ons vertrek Vrydag op ‘n Rugbytoer met ons O/11 en 1e spanne na wat ons in die wolfpack al “Birchleigh se Avontuur-, Rugby-, Netbal-, Leiers- en jagkamp” noem. Ja jy het reggeraai. Ons gaan Saterdagoggend wakkerword in die hartjie van die bosveld op die gronde van JUBAWENI sport- en avontuurskool. Hierdie is nou werklik die plek waar dit nie moeilik is om die dae te rek nie. Elke moontlike geleentheid word gebruik om die murg uit die dag te suig.

Die dae hier speel soos ‘n simfonie, wat deur die groot meester gekomponeer is, af. Die prelude van die simfonie is elke dagbreek as jy wakker word en eers besef wanneer jy uit die bed klim, jy is nie by die huis nie. Die beddens daar voel soos ‘n liefdevolle moeder wat jou saggies in die aand toevou teen haar boesem en jou met sagte natuurklanke op droomlandvaart stuur. Klaasvakie glimlag elke aand omdat hy bitter min slaapsand nodig het om die nodige wegstuur werk op die wieke van die slaapwind te doen.

Die reuk van die vorige aand se sekelbosvuur sit nog welig ingeweef in jou hare en dis net die aroma van filterkoffie, wat alreeds staan en kook, wat enigsins kan kompeteer daarmee. Die fris oggendlug met nog ‘n nagkoue fluister, herrinner jou gewoonlik daaraan dat die somer verby is en dat die russeisoen van die natuur in aantog is.

Wanneer die heerlike ontbyt van eiers, spek, roosterbrood, pap, boerewors, brood met vyekonfyt en nog ‘n koppie koffie sy weg teen jou slukderm af gevind het, tel die JUBAWENI simfonie bietjie meer spoed op. Ek hoor net die viole wat ‘n vrolike allegro in A Majeur speel en die tiptolle en katlagters wat die sagte cello’s aanvul met hul suiwer aankondiging van die oggend.

Soos die prelude net ‘n voorspel is tot groter werke is die oggend die voorspel van die dag. Die temperatuur tel net so vinnig spoed op as die simfonie en kort voor lank is die hele orkes deel van die hoofwerk. Alles word hier met passie gedoen. Die afrigting, die fasilitering en die aanbied van die self as hulpmiddel.

Net die middagete wat op die regte tyd kom ,(My maag dink gewoonlik teen daardie tyd dat my slukderm geamputeer is) bring ‘n meer gestadigde pas aan.

Die natuurorkes tel na ete weer spoed op en teen vieruur bulder die pouke en al die koperblaasinstrumente saam teen ‘n tempo en Mineurtrant wat my erg herriner aan Rossini se “William Tell” Overture se 2e beweging. Wedstryde word gespeel en dan leer almal dieselfde les: “Some you win and some you don’t”

 Ek vra eenkeer vir Joep (die eienaar) wanneer die beste tyd vir ’n sundowner is. Sy antwoord “wanneer die son die kleur van gesmelte botter is

Dis net die vloeiende viole wat deel is van elke aand se indrukwekkende sonsondergang by die sandsteen uitstulping vanwaar ‘n mens die hele plaas kan sien. Dis hier waar ek weet dat musiek wat so in die lug rondbeweeg ‘n opening in ‘n komponis se hart sal kry wat oop genoeg is om dit te hoor. Hy sal dit dan kan neerpen in nederigheid in diens van die groot Komponis.

Image

‘n Sagte naspel van ‘n enkele treurige cello verwoord die melankoliese atmosfeer by die kampvuur waar vriendskappe gebou word en bestaande vriendskappe nog hegter gesmee word. Almal se mae is gevul en almal tuur nostalgies na die “Boesman TV”  Die winkende melkweg met Orion wat stadig in die weste sak en Antares (Die hart van die skerpioen) wat knipoog deur die groot maroela in die ooste, bring die afronding van die finale van die JUBAWENI dagsimfonie tot ‘n rustige einde wanner elkeen stuk-stuk na sy lêplek beweeg. Al klanke wat laatnag nog eggo van die dag is die egalige asemhaling van moeë en tevrede afrigters wat slaap.

Ek kan nie wag nie. Ek kan nie wag om weer die reuk van die grond langs die rugbyveld te ruik nie. Ek kan nie wag om die eerste skep te eet van Nelia (Mede eienaar) se paptert nie. Ek kan nie wag om Vrydagaand se Sonsondergang te sien nie. Ek kan nie wag om die koel aandlug op my gesig te voel nie. Ek kan nie wag om die naguiltjies weer te hoor roep nie.

Ek hoop die dae is ekstra lank as ons ons vriende weer sien.

Categories: Uncategorized | 4 Kommentaar

Is jy in of is jy uit?

Die mode is ‘n bedryf wat my nog altyd gefassineer het.  Die nuwe in ding volgens my twee dogters is liedjies soos “tonic” en David Guetta. Iemand, êrens besluit wat is in en wat is uit. Sekere klere en bykomstighede het dan hul “sell by date” bereik en is dan skaars werd om ‘n motorlap of ‘n tuinstoelwasser te wees. Sekere kledingstukke se leeftyd is langer en sekere stukke is tydloos.

 

Ek is lief vir PT broeke omdat die goed so vrek lekker dra. Hulle is gemaak van duursame katoen en ek sal aanranding pleeg as my huisbestuurder durf waag om eers ‘n strykyster te wys vir die blou wonderwerk van MR PRICE SPORT. Ongelukkig word die outjies dan te veel gedra en op ‘n dag sal ek net agterkom dat mevnel my bespring en wraggies die ding skeur sodat ek hom moet weggooi. Ek is altyd vies omdat die voorspel tot die afskeur, besonder baie in gemeen het met ander situasies met amoreuse intensies. Dis so asof jy in ‘n hinderlaag betrap word. Die huweliksbelofte laat my gelukkig gou weer kalmeer omdat ek weet dat “for richer or poorer” maar eintlik vir die Evasgeslag beteken dat ons nie “poor” moet lyk nie. Broek met gate is nie in nie. (Deesdae steek ek dit weg in die motorhuis en dra dit as ek in die motorhuis vroetel en in die tuin werk.

 

Vir my is ‘n PT broek en ‘n denim tydloos. ‘n Ou broek (of hemp) is eintlik maar soos ‘n ou vriend wat jy weer ontmoet elke keer as jy hom aantrek. Hy praat nie tee nie en het maar redelik gevorm om jou lyf te pas. Andersyds maak dit nie saak hoe hy lyk nie en hoe oud hy is nie. Die wedersydse aanvaarding spoel elke keer deur elke gestikte naat en weefsel materiaal. Die deursigtigheid van die materiaal maak eintlik net dat jy hom meer versigtig aantrek en seker maak dat jy ‘n bypassende kleur (nie rooi nie) onderkledingstuk saam met hom dra. Dit was amper begrafnis toe ek my lekker denim moes weggooi omdat hy geskeur het. (Ek het nie tyd gehad om te rou oor die PT broek nie.) Gelukkig het ons die herrinneringe van goeie tye en sal PT broeke altyd in my goeie boekies wees. Dis per slot van sake die een waarmee ek en Nikki in die berge mee swem!!!!

 

In en uit is nêrens so sigbaar soos in die krieketseisoen by ‘n laerskool nie. 11 outjies kom in en dan probeer hulle die een kolwer uit kry. Eers as hy uit is kan een van sy spanmaats inkom. Hy is dan in en hy bly in totdat hy uitgeboul of uitgevang of uitgehardloop word. Dan kom ‘n nuwe outjie weer in. Dieselfde storie totdat almal uit is. As die hele span uit is dan ruil hulle om en die ander span, wat veldwerk gedoen het, is in en maak weer beurte om in te kom totdat hulle uit is. Ja, ‘n groot deurmekaarspul van in en uit en in en uit.

 

Selfs die kinders verstaan dit nie altyd so lekker nie maar soos voorheen gesê: “Kinders wil net speel” Die dilemma is egter dat daar net  11 seuns “in” die span is en niemand word regtig “uit” die span gegooi nie omdat daar gewoonlik so 14 kinders saam oefen. Salomo sou dik klei getrap het om so ‘n situasie te beredder sodat elkeen sy regmatige kans kry om te kolf en te boul en veldwerk te doen. Laerskool krieket grens baie maal aan agterplaas krieket maar die verskil is net dat daar vaste reëls is wat deur die verenigde krieketraad vasgestel word. Selfs nou met die debakel rondom die bonusse van Majola en kie is daar reëls wat geld. Die reëls word nie bepaal deur die grootte van jou erf, die nabyheid van ‘n swembad of die gevaar van vensters in die onmiddelike omtrek nie. Defnitief nie oor wie se ma die kwaaiste is nie. Hierdie reëls is vas en is presies wat hulle name sê. Dit reël die verloop van die spel sodat almal dit kan geniet in ‘n regverdige opset.

 

Ek het self ook vir een jaar groot krieket gespeel (O/10B by Laerskool Piet van Vuuren in 1975). As ek so terugdink besef ek dat ek doerietyd nie ‘n clue van krieket gehad nie. Ek het nooit gekolf nie en ek het ook nooit geboul nie. Ek dink ek was die outjie wat die meneer maar agter die bouler weggesteek het omdat ek moes speel omdat ek elke oefening bygewoon het. Van die wedstryde kon ek niks onthou nie maar ek het geweet dat daar 25 akkerbome en 4 sipresse rondom die veld geplant was. Soms het ek skelm voor die tyd vir my akkers opgetel sodat ek dit na die wit bakstene op die grens kon gooi as die meneer nie gekyk het nie. (ek het hulle terloops al 3 keer raakgegooi)

 

Uit en in is ook relatief met betrekking tot jou “Vantage point” As jy die game krieket ken, dan is jy in volgens die krieket kenners “in” As jy nie die game krieket ken nie maar jy is vaardig om die afrigter af te ransel oor sy spankeuse is jy in sekere kringe “in”. Dit neem egter een sin om jou van “in” na “uit” te neem.

 

My leefvoorbeeld het ek so ‘n jaar of wat terug beleef toe ons in ‘n hewige stryd gewikkel was. Laerskole maak nie voorsiening vir neutrale skeidsregters in die ligawedstryde nie maar ons leun swaar op elkeen se integriteit. Ek was dus die “umpire” ook op die dag. My span gaan in en hulle het die loot gewen en hulle kies toe om eers veldwerk te doen. In my oë ‘n baie goeie besluit. Na jare het ek ook al vaardig geraak om ‘n “presence” in ‘n kamer, in ‘n saal of op die veld te “voel” Miskien was dit die wyse waarop die dame se vriendelike kyk verander het na tuur en 8 boulbeurte later versleg het tot ‘n gluur. Ek het geweet dat vandag kom ‘n ding maar ek het maar vanaf boulbeurt ewe neuroties probeer dink wat ek verkeerd kon gedoen het.

 

Met halftyd begin ek aanstaltes maak na die pawiljoen toe maar sy ontmoet my so een derde op my pad. “Ek kyk nog nie hele tyd vir jou en sien dat jy niks hou van my seun nie!!!!”  Ek probeer keer en wou vra nou hoekom sê mevrou so? Toe sy my halfpad in die rede val “Jy behoort jou te skaam want jy is nie ‘n afrigter se alie werd nie!!!!” (ek gebruik maar die woord alie omdat ek nie haar woorde hier kan skryf nie want kinders lees ook soms hier). Sy gaan aan: “Ek wil niks verskonings van jou hoor nie. Hy staan die hele tyd op die veld en verbrand in die son en jy roep eerder van die ander op die pawiljoen nader om te kom bat!!!” Ek besef dat daar al ‘n klein skare aangegroei het om die petalje te aanskou. Ek probeer sê dat almal wit klere moet dra maar dat almal nie in diese….”moenie met my slim raak nie meneertjie. Ek sal jou by die skoolraad gaan aangee omdat jy nie eers vir hom of sy maats wat gereeld by hom speel wil kans gee nie” Ek weet toe dat sy eintlik uit is en nie werklik in nie. Ek fluister toe saggies in haar oor:

 

DIT WAS ONS BEURT OM VELDWERK TE DOEN MEVROU!!!!!!!!. DIE ANDER SPAN MOET EERS KOLF EN DAN KAN ONS KOLF. DIT IS NOU EERS ONS BEURT OM TE GAAN KOLF. KAN EK NOU ASSEBLIEF GAAN PIEPIE VOOR DAAR TWEE VAN ONS IS WAT SKAAM KRY?    AI!!!!!!!!!!

 

Gelukkig is ‘n krieketveld sag en kon ons nie die spykerhakkies hoor klap soos sy oor vaar na haar motor toe nie. Haar seun staan verdwaas daar maar gelukkig was hy ‘n nuwe ek wat ook nie eintlik die game heeltemal verstaan nie, anders kon hy dalk net die diepte van haar verleentheid begryp het. Hy sal nie onthou die dag toe sy ma haarself vir ‘n ses geslaan het nie. Hy weet net dat hy in die span is en hy sal sy beste gee totdat hy uit is.

Categories: Uncategorized | 4 Kommentaar

Naby aan die aarde…..

Dit is stil aande soos vanaand wat my hart ‘n punt trek om naby aan die aarde te wees. Ek bedoel dit letterlik dat ek naby aan die aarde wil wees soos om op my maag te lê en die grond en omgewing met al my sintuie waar te neem. Ek loer soms weer na die Visrivier Canyon foto’s (waar ek en lede van die wolfpack sit) en verlang na die sagte sand, om jou tone en voete in te woel, en die koelerige aandbries wat oor die hoendervleis op my arms spoel. Ek verlang na die reuk van ‘n dryfhoutvuur en die smaak van goeie brandewyn saam met die coke wat jy self afgedra en gebêre het vir die geleentheid en die vlamme wat dans teen die oorkantste krans (per ongeluk binnerym dit).

Ek glo dat ons eie gemaksugtigheid ons ontneem van die geleentheid om die lewe te ervaar. Flip Snyman het telkemale opgemerk dat die mens van vandag nie meer waarnemers is nie. Ons sien nie meer voëls raak nie tensy hulle in ons gesigsveld invlieg en dan ook natuurlik stilsit. Ons herken nie meer bome en rotse en grasse en diere nie omdat ons gewoon nie meer omgee nie.

Combretum imberbe(Hardekool), Sporopipes squamifrons (Baardmannetjie), Saggittarius serpentarius (Sekretarisvoël), Bequartiodendron magalismontanum (Stamvrug). Alpha Centauri, Betelgeuse, Procyon en Archernar.

Bekende vriende met onbekende name. Gelukkig weet ons dat name nie naastenby ‘n wese of ‘n ster kan omsluit nie. Gewoonlik net ‘n baie kenmerkende eienskap wat mens eerste waarneem. Soms ongeskikte maar uiters effektief beskrywend. Dink maar aan: oogpister, perdepram en drolpeer. Die juk van hul name val eers sag wanneer ons tyd spandeer om hierdie organismes te leer ken.

My groot botaniese vriend, Carel Van Heerden, is die verpersoonliking van botanofilie (Liefde vir bome) Ek praat nie hier net van bome ken nie, ek praat hier van glinster in sy oog as hy ‘n mooi boom sien en ‘n amper onsedelike liefkosing van die stam van die koorsboom (Acacia Xantoploea) met sy hande. Een van die mense wat naby die bome leef.

Mense se eie voorveronderstellings van ander mense volg dieselfde paadjie, mits die waarnemer moeite doen om die goeie te soek soos ‘n delwer wat soek vir daai stukkie goud in die spoelsand. ‘n proses wat defnitief nie afgejaag kan word nie en dikwels skatte bo verwagting oplewer. Skatte wat nie in geld gemeet kan word nie maar in die lengte van jou glimlag by die weersiens. Dit is dan ook hier waar die trappe begin om mense nader aan mekaar te bring. Om hierdie trappe te klim verg net twee dinge: Die wil om te nader en tyd.

Die trappe se name is eenvoudig aldus Stephen Covey en die uwe:

HATE, DISSAPROVE, TOLERATE, ACCEPT, VALUE, CELEBRATE, ASSIMILATE.

From hate to assimilate in one giant leap for mankind. Voorwaar iets wat net reuse kan doen. Ons is mos reuse en daarom kan ons dit doen omdat ons glo dat ons effort ‘n bydrae maak tot ‘n beter wêreld vir almal in jou kontak-sfeer. Die bopunt van die stel trappe bring ons dan by die baken wat ons verseker dat ons nie altyd nodig het om Namibie toe te reis om onsself weer waarde te gee nie.

 ‘Maak ons eenvoudig soos hulle wat naby die aarde staan, die sterre sien, die winde hoor, en glo.’ – Ernst van Heerden

Van vanaand af gaan ek ook die reusespronge aandurf deur tyd te spandeer met almal. Die wat my sag hanteer en die wat dit nie doen nie.

VIVA Vriendskap!!!

Categories: Uncategorized | 1 Kommentaar

Blog at WordPress.com. Theme: Adventure Journal by Contexture International.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.